Dit was nogal 'n verfrissende gesig om die sjarmante prins Harry (27) in sy ouma, koningin Elizabeth, se plek te sien by die afsluitingsgeleentheid van die Olimpiese Spele die afgelope Sondag. Sy skoonsus en goeie vriendin, Kate, het langs hom gesit.

Koningin Elizabeth het na berig word die verrigtinge vanuit die Balmoral-kasteel in Skotland op TV gevolg en was, anders as met die openingseremonie, nie verplig om die afsluitingsgeleentheid in haar amptelike hoedanigheid as koningin by te woon nie.

Prins William was ten tyde van die afsluiting aan die werk in Noord-Wallis as helikopter-vlieënier in die lugmag.

Die Spele wat nog lank onthou sal word as een van die bestes wat die wêreld nóg beleef het, is Sondag met 'n opwindende konsert in Londen afgesluit.