Die hertog en hertogin van Cambridge, William en Kate, het onlangs die doopdatum van klein George bekend gemaak.

Dié koninklike doopplegtigheid sal Woensdag 23 Oktober 2013 by die koninklike kapel in die St. James-paleis plaasvind. Prins George sal deur die Aartsbiskop van Canterbury, Justin Welby, gedoop word.

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

’n Nuwe dooprok

Prins George sal die eerste koninklike in 167 jaar wees wat nie die dooprok dra wat elke koninklike by hul doop dra nie. Dié oorspronklike rok is in 1841 vir die eerste keer gedra toe koningin Victoria dit vir haar oudste dogter laat maak het. Meer as 30 koninklikes is al in dié tradisionele rok gedoop waaronder prinse Charles, William en Harry.

Die laaste koninklike wat in dié gewaad gedoop is, was Britse adelikes se dogter in 2004. Daarna is besluit dié rok is te oud en delikaat om weer gebruik te word. Koningin Elizabeth het gevra dat ’n presiese replika van dié rok gemaak word wat in 2008 voltooi is. Prins George sal die eerste een wees om in dié nuwe rok gedoop te word.

’n Nuwe familiewapen vir William & Kate

Net betyds vir die doop, het William en Kate hul eie familiewapen gekry. Dié nuwe wapen is ’n kombinasie van William en Kate se onderskeie familiewapens en bevat ook elemente van wyle Diana se Spencer-familiewapen.

William & Kate wapen FOTO:BBC

William se wapen (die skild links) is die koninklike familiewapen wat op sy 18de verjaarsdag deur die koningin aan hom toegeken is. Kate se wapen (die skild regs) is van die Middleton-familiewapen afkomstig en is in 2011, net voor hul troue, aan haar toegeken. Daar is ook iets van wyle prinses Diana se Spencer-familiewapen in dié nuwe wapen - die skulp-motief wat aan die bokant van dié wapen pryk. Dié nuwe wapen bevestig dat William en Kate ’n amptelike koninklike paartjie is.

Bronne: Hello Magazine & BBC NEWS