Sy is nogsteeds in Amerika en op haar nuwe blog (I'm just saying...) hou sy haar met 'n hele paar nuwe projekte besig.

"Ek is opgewonde oor my werk, want dit voel goed so. Dit is so lekker om my harde werk te vier, en alles wat ek al bereik het," sê Quinne.

Sy't onlangs vir 4 dae aan 'n nuwe kortfilm, This is Charlotte King, geskiet as deel van 'n Ford Fiesta-veldtog. Die kortfilm is onlangs by die AMC in Fashion Valley, San Diego gewys. Kyk agter-die-skerms-foto's van die kortfilm.

Wat dink jy van Quinne se Amerikaanse aksent? Kyk die video.

This is Charlotte King from Holiday Matinee on Vimeo.

**Besoek Quinne Brown se webtuiste of lees haar blog

Uit 'n onderhoud met SARIE November 2008...

In San Francisco het sy nie ’n roetine nie. Soms is sy vroeg uit die vere, ander kere slaap sy laat. Sy loop dramaklasse, gee dramalesse vir hoërskoolleerlinge, repeteer en gaan na oudisies. “San Francisco is ’n maklike stad om in te bly, want die mense is oopkop, die kulture uiteenlopend, en daar is natuurskoon en spasie - baie soos in Suid-Afrika.” Quinne het in Suid-Afrika in die openbare oog “’n grootmens” geword. Sy was net 20 toe sy die rol van Connie van der Lecq in die sepie 7de Laan losgeslaan en uiteindelik een van die gewildste karakters geword het. “In Amerika het ek die kans gekry om myself te leer ken sonder die druk van die kollig. Ek geniet die vryheid wat ek daar het om net te kan wees en foute te maak. Omdat ek dinge nou alleen moet doen, leer ek om my besluite te vertrou.”

Dáár het sy vinnig geleer om te wees wie sy is en dit met selfvertroue te doen. “Die Amerikaners word nie groot met die Afrikaner-ding om nederig en ‘klein’ te wees nie. Hulle word geleer: Jy mag sê wat jy dink en jy móét dit sê. Ek is gek daaroor, maar dit is iets om aan gewoond te raak.” Jy kan nie nederig en klein by ’n oudisie opdaag nie. Jy moet jouself kan verkoop, sê sy. “Ek moet by ’n vertrek instap en sê dít is wat ek kan bied. Ek het besef as jy hard werk, mág jy vertroue in jouself hê.

Sy probeer die Amerikaanse aksent nog onder die knie kry, dit kom nie maklik nie. “I’m getting there, daaaarling,” rol sy haar r’e. In Suid-Afrika is sy 29 en in Amerika is sy tussen 23 en 35! “Jy sê nie daar hoe oud jy is nie. Jy sal jouself in ’n boksie sit, want as ek 29 is, kan ek nie ’n 23-jarige speel nie. Mense glo wat hulle lees.”