Prinses Madeleine van Swede is die volgende koninklike om voor die kansel te staan. En ons is glad nie verras dat sy Valentino vir haar groot dag gekies het nie.

Op 8 Junie trou sy met die Amerikaanse bankier Chris O'Neill. Hulle het in Oktober 2012 verloof geraak.

Vir die pre-seremonie, of die lysning soos die Swede dit noem, het Madeleine 'n rok van Pär Engsheden gedra - dieselfde Sweedse ontwerper wat haar suster, prinses Victoria, se trourok in 2010 gemaak het. Die lysning is 'n Sweedse tradisie wat uit die 13de eeu dateer en wat die publiek die geleentheid gee om enige besware teen die huwelik bekend te maak.

Maar in dié geval was dit net 'n formaliteit, aangesien Madeleine se ma, koningin Silvia van Swede, gesê het Chris "is enige skoonma se droom".

Koningin Silvia het 'n rok van Christian Dior gekies toe sy met koning Carl Gustaf getrou het. Haar rok was in 'n eenvoudige snit, met 'n hoë neklyn, lang moue en 'n stywe romp. Dié eenvoud het beteken dat haar pragtige kroon en sluier die aandag getrek het. Modekenners glo Madeleine gaan ook hierdie styl volg.

Madeleine se Valentino-rokmaak haar een van 'n paar sterre en koninklikes wat in 'n Valentino-skepping trou.

Haar troue gaan in die koninklike kapel plaasvind, waarna 'n geweersaluut van 21 skote in 5-sekonde-intervalle afgevuur sal word. Die onthaal vir die gaste, wat familie, vriende en Europese koninklikes (onder andere die Noorweegse, Griekse en Deense koninklike families) insluit, sal gehou word by die Drottningholm-paleis in Stockholm, waar Madeleine grootgeword het.

Waarin trou 'n prinses?

Koningin Elizabeth en haar suster Margaret het albei in Norman Hartnell-rokke getrou.

Diana se rok van David en Elizabeth Emanuel het 'n 7,5 m lange sleep gehad en was van antieke kant gemaak.

Camilla Parker-Bowles het in 'n Robinson Valentine-rok met Prins Charles getrou.

Die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, se rok is deur Sarah Burton ontwerp. Sy is die kreatiewe bestuurder van die ontwerpershuis Alexander McQueen.

Die Suid-Afrikaanse prinses Charlene van Monaco het in 'n Armani-rok getrou.

Wie het ook in Valentino getrou?

Valentino het Jackie se rok gemaak toe sy met die Griekse magnaat Aristotle Onassis getrou het.

In 1995 het prinses Marie-Chantal van Griekeland in 'n Valentino-rok getrou. Elke deel van haar rok is met die hand gewerk en word beskou as een van sy beste rokke nóg.

Prinses Máxima van Nederland se Valentino-rok van Mikado-sy het sy werk gedoen! Ongeag dat sy vir haar 2002-troue baie van een plek na 'n ander moes reis in dié rok, was daar nie 'n kreukel in haar rok te bespeur nie.

Anne Hathaway het getrou in 'n ivoor sy-rok met 'n sleep wat met satynblomme geborduur is. Sagte pienk blomme is verder met die hand daarop geverf.

Jennifer Aniston gaan glo ook in 'n Valentino met Justin Theroux trou.