Eers was dit die metroman, toe keer die grotman terug en nóú val die kollig op bromances n.a.v. die fliek I love you, man, wat binnekort te sien is. Dis nóg 'n term vir manlike gedragspatrone, en Aristoteles het glo al in 300 vC hieroor iets te sê gehad. Bromance verwys na 'n intieme maar nie-seksuele verhouding tussen twee heteroseksuele mans. Die woord is 'n kombinasie van die woorde brother en romance.

Bekende bromances

  • George Clooney en Brad Pitt (sommige meen dat Pitt Clooney se langste affair is)
  • Ben Affleck en Matt Damon
  • Lance Armstrong, Jake Gyllenhaal en Matthew McConaughey
  • Bill Clinton en Al Gore (Polities gesproke, 'n voorloper van die bromance)

Bron: Wikipedia

In I love you, man (te sien vanaf 24 April) gaan die verloofde hoofkarakter, Peter Klaven, op 'n paar rampspoedige afsprake met mans op soek na 'n goeie vriend wat sy strooijonker kan wees. Hy ontmoet dan vir Sydney Fife. Hulle word goeie vriende omdat hulle ure saam is (iets wat sy verloofde baie omkrap). Peter en Sydney doen saam besigheid en ná Sydney iets doen wat Peter verneder "verbreek hulle die verhouding". En toe Peter die dag voor die kansel staan, bars Sydney by die kerk in en verklaar sy platoniese liefde aan hom.

Ander buddy-films is Pineapple Express en The 40-Year-Old Virgin.

Soos Anne Morrow Lindbergh, baanbreker-vlieënier en skrywer, gesê het: "Mans skop vriendskappe rond soos sokkerballe, en dit breek nie eens nie. Vroue hanteer dit soos glas en dit spat aan skerwe."