Jare gelede het sy by een van Steve Hofmeyr se konserte op haar Namibiese tuisdorp, Gobabis, vir hom gevra hoe word jy ’n ster. Vandag is Juanita du Plessis dié superster in die Afrikaanse musiekbedryf.

Juanita is ongetwyfeld die grootste én gewildste Afrikaanse vrouekunstenaar in die land, sê Arnold Coleske van die platemaatskappy Coleske Artists. Ná meer as tien jaar is sy ook die grootste verkoper van Afrikaanse musiek met meer as 2 miljoen CD- en DVD-verkope.

Haar liedjie “Ska-Rumba” het mense in 2000 laat regop sit en sedertdien het sy jaar ná jaar, op elke CD, ’n nr. 1-treffer gehad, sê Johan. “Juanita is een van die beste liriekskrywers. Sy kan ewe goed ’n popliedjie, ’n gospel- en ’n country-liedjie skryf.”

Self sê sy: “My liedjies is almal soos my kinders, veral dié wat ek self geskryf het. Maar ‘Tyd vir omdraai’ lê my naaste aan die hart.”

Om haar sukses te kroon het sy ’n lys toekennings wat skaars op ’n CV pas. “Juanita is die vrouekunstenaar wat die volk se hart gesteel het, vir meer as ’n dekade lank al,” sê Johan. “Sy is die musiekbedryf se hoofmeisie, dux-leerling en victrix ludorum.”

Het jy geweet?

  • Juanita het op haar toere al meer as 1,3 miljoen kilometer per motor afgelê en meer as 210 000 liter petrol daarvoor gebruik!
  • Sy verklap: “Ek kan opmy eie ’n groot regina-pizza met peri-peri-sous in net 10 minute opeet!”