*Kenners en betrokkenes met wie SARIE gepraat het, het laat blyk dat die term "selfdood" verkies word bo "selfmoord", waaraan daar 'n onnodige stigma kleef. "Jy dink jy doen hulle 'n guns, maar jy maak hulle seerder as wat jy dink as jy gaan. Daar is 'n uitweg. Al voel jy jou lewe kan nie meer aangaan nie. Al is dit vir jou so moeilik, gaan sien 'n dokter, praat met iemand. 'n Mens moet dink wat jy doen aan jou geliefdes." - aktrise Carien Botha se raad aan mense wat wil selfmoord pleeg, na haar pa se eie selfmoord.

Danny Nortjé-Rossouw, lektor aan die Universiteit van Pretoria, se ma, pa, broer en tannie het selfdood gepleeg. Janie du Plessis praat op 21 Augustus met hom op kykNET. Oor dié onderhoud sê sy:

“Ons het vooraf baie navorsing gedoen. Maar sjoe, niks berei jou voor vir wanneer jy voor daardie mens sit en hy sy storie vertel nie. Die swaar ding is om die regte vrae te vra. Hoe weet jy wat is die regte vraag? Daar is so baie.
“Mense kan maar sê jy moet jou losmaak, nie betrokke raak nie. Dat dit jou werk is. Maar dis skokkend hoe dit jou raak as jy daar sit. Om regtig kontak te maak met die mens oorkant jou moet jy luister asof jy in jou sitkamer is. Jy moet jou afsluit van die ligte, die kamera, die gehoor. Ek moes ’n paar keer hard aan die trane sluk.
“Dit is hartverskeurend om te sien hoe dapper Danny veg. En hy gaan waarskynlik sy lewe lank daaraan moet werk. Hoe vergeet jy wat gebeur het en beweeg aan? Jy sit en luister en dink: As hy dit kan doen, kan ek mos ook.

“Jy sit daar met jou eie probleme, jou eie stories. En die een wat sy storie vertel, maak dit wat stukkend is, gesond. Nie net vir die mense in die gehoor en in hul sitkamers nie. Maar ook vir my.”
Lydia van der Merwe

Klik by www.kyknet.co.za vir meer

Kyk WAT MENSE SÊ MET JANIE
Dinsdagaande om 21h00 op kykNET


In die September-uitgawe van SARIE gesels ons met lesers wat hul geliefdes aan selfdood afgestaan het.

DEEL JÓÚ storie met ons op sarie.com