Carmen Dell'Orefice is 'n 81-jarige New Yorker wat op die ouderdom van 15 vir die eerste keer op Vogue se voorblad verskyn het. Sy is vandag die oudste werkende supermodel in die wêreld. En by vanjaar se New York Modeweek het sy weer betower.

Carmen Dell'Orefice op die voorblad van Vogue in 1947, sy was 15 jaar oud

Sy het vir twee ontwerpers, Norisol Ferrari en Marimekko, geloop. Die Amerikaanse aktrise en model Carol Alt (51) was saam met Dell'Orefice op die loopplank en hul gesamentlike ouderdom was 133 jaar.

Carmen se vlekkelose gelaat en lengte (5 voet 10) laat steeds die koppe draai. Om nege die oggend het sy in 'n vintage-geïnspireerde karamelkleurige jasrok van Ferrari verskyn en later die middag in 'n moderne kleurvolle Marimekko-ontwerp.

"Ek weet nie of dit goed of simpel is nie. Maar ek is steeds mal oor wat ek doen, en bloot dat ek dit kán doen," het Dell'Orefice gesê. Sy het ook openlik in 'n Today-onderhoud erken dat sy vullers gebruik om die ouderdomsproses op haar vel te vertraag.

"Jong modelle kyk op na haar, sy mesmeriseer hulle. Sy is 'n ikoon," het Corinne Nicolas, Dell'Orefice se agent by Trump Model Management, gesê.

En Carmen se wyse kommentaar was: "Ek dink Amerika word nou groot. Hulle aanvaar dat die oorgrote meerderheid van die bevolking oor 50 is, dat dít is waar die lewe gebeur."