Sarel Fourie se karakter in Fanie Fourie’s Lobola word deur Chris Chameleon gespeel. Maar nou het Sarel ’n lewe van sy eie aangeneem. Sy debuutalbum Dinky is reeds op die rakke! (Laai dié album hier af!)

Die 32-jarige Sarel is Fanie se broer in dié film. Sarel het in Benoni skoolgegaan en sy sangtalent is vroeg reeds opgemerk – blykbaar kon sy ma hom in haar maag al hoor sing. Sarel antwoord ’n paar persoonlike vrae sodat ons hom beter kan leer ken:

Sarel Fourie

Wie of wat is jou inspirasie?
Nicolis Louw, Steve Hofmeyr, Die Heuwels Fantasties, Chris Chameleon. Ek hou ook baie van Elvis, Demis Roussos en natuurlik Bon Jovi en Nickleback. Hulle’s kwaai en maak my lus vir skud!

Wat is jou gunsteling kleur?
Ek like blou en ook pienk. Nie te veel peink nie anders dink die mense ek is te pienk, maar my vrou weet altyd presies hoeveel pienk 'n man moet dra om cool en modern en sensitief te lyk. Dan hou ek natuurlik ook van swart en wit, want dit laat my dink aan ’n klawerbord. En aan baie ander dinge soos my Fanie en Dinky!

Beskryf jou klerestyl:
Wel, ek’s nogal oppit as dit by mojo kom, so styl is heavy belangrik vir my. Ek dink ek is nogal 'n stylvolle ou met my vinger op die pols. Ek like dit as goed partykeer ‘n bietjie blink, dit help darem dat mense jou bietjie raaksien! Dis ook goed as klere so bietjie by mekaar pas, soos ’n blou kraaghemp met blou skoene. Maar as ek nie show of so nie, dan like ek jeans met miskien 'n Diesel T-shirt en ‘n cool baadjie oor dit of so. My vrou kies meestal my klere en ek dink dis oraait want almal weet sy het baie goeie styl.

Wat eet jy graag? En jou gunsteling drankie?
Dis nogal belangrik om gesond te eet as 'n mens so baie toer op die pad, so ek los nooit die slaai wat hulle saam met burgers gee nie. Hamburgers is obviously moerse lekker, maar mens kan nie altyd dieselfde kos eet nie. So af en toe eet ek darem ook pizza. Maar dis net as ek toer, anders eet ek by die huis lekker braaivleis en my vrou kook ook lekker aartappels en boontjies en pampoen en lam op Sondag. Ek hou eintlik van groente soos aardappels, soetpatats, mash, hashbrowns, mieliepap wat van mielies gemaak is en so. Ek kom mos nou agter, ek hou eintlik baie van groente. Skoon honger nou! Ek like baie van Coke, met of sonder brannas. Red Bull is ook lekker, net so of saam met vodka. 

Wie is jou ideale vrou?
My vrou Santjie is definitief my ideale vrou! Sy is mooi, sy kook lekker en al my beste songs skryf ek spesiaal vir haar.

Waar kom die inspirasie vir jou musiek vandaan?
Ek like dit om oor liefde en so aan te sing. Santjie is maar die een vir wie ek dit sing. Maar partykeer hou ek ook van lekker party en so aan en dan kry ek sulke rukkings in my agterwêreld en dan weet ek waar die beat lê. So dit help ook met inspirasie.

Is daar iets wat jou aanhangers nie van jou weet nie?
Uhm, ek weet nie regtig nie. Ek skiem meeste mense weet ek is romanties en ek hou van braai. Maar ek dink mense sal verbaas wees om te weet ek kan 'n baie lekker potjiekos maak met skaapnekkie en aartappels en my eie geheime mengsel van kruie.

As daar ooit ‘n fliek oor jou lewe gemaak word, wie moet die hoofrol speel?
Dit mag dalk vir jou ‘n bietjie snaaks klink, maar ek dink daai Chris Chameleon is nogal ‘n goeie akteur. Ek het hom al die eerste keer gecheck toe ek nog 'n laaitie was in daai Sonkring TV-reeks toe hy so ’n vreemde outjie was. Hy moet my obviously nie so speel nie, maar hy is goed en dan sal die mense ook weet ek het class as hy my speel.

Kyk hieronder Chris Chameleon se onderhoud oor Sarel Fourie: