Soms het haar musiekdrome soos ’n vlietende ster gevoel. Opgee het partykeer na die beste opsie gelyk. Maar Janie Bay kon nie die musiek in haar siel smoor nie ... sy móés sing, sy móés liedjies skryf. Al het dit beteken dat sy uit tasse leef, vir gigs van net R500 “ja” sê, en in pubs sing waar lede van die gehoor net oor hul volgende dop omgee.

“Die afgelope 10 jaar was nie maklik nie. Ek moes survive, ek moes hustle,” erken sy. “Maar ek het terselfdertyd geleer om te vertrou, om te wag en te glo.”

Sy begin nou eers haar voete vind. “Ek vind my stem, my klank.”

Die liedjies op haar eerste album, Miscellany, wat in 2017 uitgereik is, was meestal in Engels. “Ek het grootgeword in ’n ouerhuis waar verskeie soorte musiek gespeel is. Ek was nog altyd meer gemaklik om in Engels te skryf.”

Maar deesdae skryf sy ook in Afrikaans. “Twee van die liedjies op my eerste album was in Afrikaans: ‘Wag vir jou’, wat ek saam met Hunter Kennedy geskryf het, en ‘Koning’.”

Sy beskou die Amerikaanse musikant en liedjieskrywer John Mayer as ’n groot inspirasie. “Sy musiek is vol ... al sy liedjies is fantasties. Ek vind net aanklank.”

FOTO Instagram / Janie Bay

En om aanklank te vind is so belangrik, juis daaroor skryf sy al hoe meer in Afrikaans.

“Twee van die liedjies op my eerste album was in Afrikaans: ‘Wag vir jou’, wat ek saam met Hunter Kennedy geskryf het, en ‘Koning’. Ek wou toets, om te sien hoe die mense daarop reageer”

Toe besef sy dat mense aanklank vind by haar liedjies in Afrikaans.

“En ek begin toe meer liedjies in Afrikaans skryf. Boonop het Hunter, met wie ek gereeld werk, my uitgedaag.”

Haar jongste enkelsnit is “Die heelal”, waarop die kletsrymer Early B ook rap. “Elke liedjie se skryfproses is anders. Partykeer kom die lirieke eerste en ’n ander keer is dit ’n wysie. Jy weet net ...”

Al haar liedjies gaan oor haar lewe, haar ervarings. “Ek probeer altyd eerlik wees. Ek skryf wat ek ervaar het ... my seer, my liefde. Ek dink musiek moet altyd relatable wees.”

En die lirieke is net so belangrik. “Dis poetry ... mense moet daarmee kan connect.”

Haar engelstem is ook te hoor op die klankbaan van Ivan Botha en Donnalee Roberts se fliek Stroomop (2018).

“Alles het gebeur soos wat dit moet. Ek verkies hoe my pad verloop het, geleidelike sukses ... nie skielik nie. Dis wanneer dit skielik is dat dit gevaarlik kan raak.”

Sy reken Suid-Afrika het talentvolle liedjieskrywers. “Ek luister graag na Roan Ash, Spoegwolf, Faraway George, Gerald Clark en The Great Yawn.”

En wat nou? “Ek werk aan ’n tweede album. Ek is opgewonde.”