Dis nog nie amptelik nie, maar dit gons in die koninklike kringe dat 'n troue tussen Prins William (28) en sy vriendin van 10 jaar, Kate Middleton (28),in Junie 2012 gaan plaasvind. Die Daily Star berig dat Prins William sy Kate belowe het dat 'n aankondiging oor hul verlowing binnekort gemaak sal word. 

Die groot vraag wat nou op almal se lippe is, is wie word genooi en wie word nie genooi nie... Life & Style het onlangs ook by koninklike korrespondent, skrywer en blogger, Katie Nicholl, gaan aanklop oor wie moontlik die gesogte lys van trougaste sal maak. Volgens haar sal beide Prins Charles en Koningin Elizabeth 'n sterk invloed hê op wie na die troue genooi word. "Daar is protokol wat gevolg moet word, en menigte staatshoofde en lede van Europese koninklike families sal op die lys moet wees," sê Katie. Life & Style berig verder dat die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, Rap-sanger, Diddy en Britse popster, Rod Stewart, moontlik van die Baie Belangrike Persone op die gastelys sal wees. Elton John was baie na aan Diana en sal beslis ook genooi word, sê 'n bron. Sarah Ferguson (Fergie), wat voorheen met Prins Andrew getroud was, sal, volgens 'n bron in die paleis, nie naby die troue toegelaat word nie. Dit volg nadat sy vroeër op band opgeneem is waar sy omkoopgeld wou hê in ruil vir toegang tot Prins Andrew.

Die troue sal vermoedelik in die St. George's Chapel in Windsor gehou word en daar is nét genoeg sitplekke vir 1 300 gaste. Die seremonie sal dus ietwat kleiner wees as toe sy pa, Prins Charles, met Diana op 29 Julie 1981 in St Paul's Katedraal getroud is. Daar was byna 3 500 gaste by hul troue en meer as 750 miljoen mense het na die TV-uitsending gekyk.

Wat gee mens as trougeskenk vir iemand wat duidelik reeds alles het?