'n Baie hartseer, maer Kristen is in Los Angeles gekiek toe sy die eerste keer sedert die verbrokkeling van haar verhouding in die openbare oog verskyn het. Sy het in oefenklere met 'n koppie koffie en 'n bos blomme gestap.

"Sy slaap nie goed nie, en huil heelnag," het 'n bron aan Us Weekly vertel. "Sy is naby aan 'n ineenstorting. Sy's desperaat om haar verhouding te red en haar foute reg te maak."

Sedert die foto's van haar affair met Sanders op die internet uitgelek het, handhaaf sy 'n baie lae profiel. Intussen sit die vervaardigers van die Twilight Saga: Breaking Dawn part 2 met die hande in die hare. Robert weier glo om in hierdie stadium met Kristen te praat en dit maak media-aangeleenthede rondom hul nuwe fliek baie moeilik. Hulle sal waarskynlik nooit in dieselfde vertrek kan wees nie, en onderhoude sal só geskeduleer moet word dat hulle mekaar nie raakloop nie. 

Pattinson het wel al 'n reeks onderhoude agter die rug om sy nuwe film, Cosmopolis, te bemark.

Stewart is veronderstel om haar nuwe film, On the Road, eersdaags by die Toronto Internasionale Filmfees te verteenwoordig.