BYEGOM (PROPOLIS)

Die klewerige stof wat heuningbye gebruik om “huis te bou” en dit “op te knap”.

KONINGINJELLIE (ROYAL JELLY)

’n Voedingryke afskeiding van die werker se melksapkliere wat gebruik word om die koningin, koninklike larwes en jong bye te voed.

BYEBROOD

’n Mengsel van stuifmeel en heuning wat bye vir hul larwes voer.

Heuning vir jou vel

Heuning het antibakteriese, teen-inflammatoriese en antiseptiese eienskappe en word in baie skoonheidsprodukte gebruik. Só het die skoonheidshuis APIVITA ’n reeks van sowat 300 produkte met byebestanddele vir jou hare, gesig en lyf. Hulle gebruik heuning vanweë die verdunnings- en bevogtigingseienskappe, volgens dr. Konstantinos Gardikis, hoof van navorsing en ontwikkeling.

Die skoonheidshuis Burt’s Bees het sy ontstaan aan kerse te danke – gemaak van die Amerikaanse byeboer Burt Shavitz se oorskiet-was. Volhoubare byewas, heuning en koninginjellie (of byemelk) is vandag ’n kernbestanddeel in hul lip- en velsorgprodukte, volgens Monica van der Walt, SARIE se skoonheidsredakteur.

En ook in die modewêreld maak bye ’n impak ...

Bye is ’n gewilde tema in die modewêreld. Gucci het tans ’n reeks bye-modeartikels (dasse, hemde, sakke). Maar dié tendens is nie nuut nie. ’n Goue Minoïese hangertjie in die vorm van ’n by, wat uit 1700- 1600 v.C. dateer, is in die Heraklion-museum op Kreta te sien. En by die begrafnis van die Amerikaanse komediant Joan Rivers in 2014 het mense bye-borsspelde uit haar kostuumjuwelereeks gedra. “Bye is dekoratief, maar ook ontwerpers se subtiele manier om hul steun aan Moeder Aarde toe te sê,” volgens Amaria Carstens, moderedakteur.