Willem Botha het talle talente. Eers het hy as sanger tonne aanhangers gekry, daarna met sy toneelspel en nou wen Willem harte deur sy fotografie ...

Willem, wat in 2007 tweede gekom het in die sangkompetisie Afrikaanse Idols, neem deesdae portretfoto's vir al wat ’n bekende is. Hy vertel dat hy nog altyd lief was vir fotografie.

“Toe ek jonk was, het ek altyd diere afgeneem,” sê hy. In sy matriekjaar was hy ontevrede nadat hy vir ’n fotosessie gegaan het om foto's vir sy CD-omslag te kies. By die huis gekom, het hy self met die kamera gespeel en uiteindelik sy eie foto vir die omslag gebruik.

0000663828_500 Willem se debuut-album, kô ma hier

Meer onlangs het hy foto's van die sangers Dewald Wasserfall en Pieter Koen ook geneem. Dié nuwe besigheid het egter al ’n paar jaar gelede begin.

“Ek het ná Idols gesien hoeveel geld fotograwe vra om foto's vir CD's te neem en besef dít is ’n werk wat ek kan doen,” onthou hy. Destyds het die fotograwe wat Willem vir sy CD's afgeneem het sélf die grimering, haarstilering en stilering gedoen. Willem bied ook nou al dié dienste wanneer hy foto's neem.

Dié foto is wat Willem van een van sy vriendinne in Riversdal, Estea Venter, geneem het FOTO: Willem Botha Dié foto is wat Willem van een van sy vriendinne in Riversdal, Estea Venter, geneem het. Hy het self haar hare, grimering en stilering behartig
FOTO: Willem Botha

“Ek het jare gelede saam met Karin Ferreira, wat ook in Idols was, getoer. Sy doen baie mooi grimering en toe het ek haar dopgehou en geleer hoe om dit ook te doen.”

Willem het ook onlangs 50 jong kunstenaars afgeneem vir ’n agentskap wat kunstenaars bestuur.

Hy maak net staat op sy talent en die natuurlike oog wat hy vir fotografie het. Hy het nie ’n kursus in fotografie gevolg nie.

Hy het ook die stilering gedoen toe hy dié fotosessie saam met Janadia Jacobs gedoen het FOTO: Willem Botha Hy het ook die stilering gedoen toe hy dié fotosessie saam met Janadia Jacobs gedoen het
FOTO: Willem Botha

Desember Nataniël Willem vertel dat hy baie by sy fotograaf-vriend en -mentor, Clinton Lubbe, leer. Clinton, wat onder meer SARIE se Desember 2013-voorbladfoto van Nataniël geneem het, is glo nie skaam om sy kennis te deel nie.

“Hy is altyd bereid om te help - ek het hom nou die dag gebel om te hoor watter lens hy op sekere foto's gebruik het en hy het dadelik vir my gesê," sê Willem. "My foto's word baie deur Clinton se werk geïnspireer.”

“Ek geniet dit verskriklik baie, dis veral vir my lekker om die foto's vir mense te wys en te sien hoe verstom hulle is oor hoe mooi die foto's uitkom,” sê hy. Willem glo dat jy die foto so perfek moontlik moet kry wanneer jy dit neem eerder as om al die foto's later in rekenaarprogramme soos Photoshop reg te maak.

“Ek probeer vir mense wys jy het nie Photoshop nodig vir mooi foto's of om mooi te wees nie.”

Willem se foto-wenke

  • Hou die kleredrag op foto's so eenvoudig moontlik
  • Beligting is belangrik - ek verkies natuurlike beligting, want dan gee dit ook mooi kleur
  • Die mense wat jy afneem én jy, as fotograaf, moet weet wat jou model se beste kant is
  • Die foto moet reeds "klaar" wees wanneer jy deur die lens kyk - dit moenie nodig wees om te beplan hoe jy die foto ná die tyd in rekenaarprogramme beter kan maak nie
  • Gee leiding! Baie keer weet mense nie wat om te doen as hulle afgeneem word nie. Ek, as fotograaf, gee dan leiding oor hoe hulle moet staan, waar hul hande moet wees en hoe hulle hul gesigte moet draai