Sy het as jong aktrise groot naam gemaak in eksentrieke rolprente soos Beetlejuice (1988) en Edward Scissorhands (1990). In hierdie tyd was sy en Johnny Depp nie slegs op die silwerdoek 'n paartjie nie, maar ook in die werklikheid - en 'n blink toekoms het op hulle gewag.

Maar dit was nie 'n maklike pad vir die jong aktrise nie. Winona sê in 'n onderhoud met die tydskrif Interview dat sy rolle verloor het omdat sy nie mooi genoeg was nie.

Sy onthou toe sy 16 jaar oud was, het ’n regisseur haar in die middel van haar oudisie gestop en vir haar gesê, “Luister hier. Jy moet nie ’n aktrise wees nie. Jy is nie mooi genoeg nie.”

Die 41-jarige aktrise kan nou sê dat die regisseur dit nie sleg bedoel het nie. “Sy was baie reguit en het seker gedink sy doen my ’n guns.” Winona Ryder

“Dit was ’n bewys van hoe my ouers my grootgemaak het – ek was nie verpletter nie. Hulle het my altyd geleer dat dit baie cooler is om ’n individu en uniek te wees.”

Die terugslae het nie die sukses van haar loopbaan gekelder nie. Haar verhoudings met Johnny Depp en Ethan Hawke het seker gemaak dat sy lank in die kalklig gebly het. Maar soos wat haar verhoudings verbrokkel het en die rolle nie meer ingestroom het nie, het Winona haar rigting begin verloor. In 2011 is sy vir winkeldiefstal gearresteer.

Sy sê in die onderhoud 'n groot deel van sukses is om nie die bohaai wat ander oor jou maak te glo nie. “As ek nou daaraan dink, word ek eintlik skaam!"

"Die afgelope 10 jaar - nadat ek vir 'n ruk nie toneelgespeel het nie - was moeilik vir soveel redes. Jy begin aanneem jou pad gaan op 'n sekere manier loop ... Ek het baie sukses vroeg in my loopbaan gehad, maar in my laat-twintigs het iets gebeur - dalk omdat ek lyk soos wat ek doen, of omdat ek vroeg begin toneelspeel het - mense het gedink ek is nie meer reg vir sekere rolle nie."

Winona het haar beeld verander en haar volgende twee projekte is aksie-belaaid. Kyk uit vir Home Front, 'n film oor dwelm-handel met die aksie-held Jason Statham (The Transporter) en Automata waaraan Winona nou werk saam met Jessica Alba en Antonio Banderas.