Na drie jaar is Zetske van Pletzen en Altus Theart verloof! Hulle het stil-stil verloof geraak en die volgende oggend gaan ouers vra.

Pierre van Pletzen, Zetske se pa en die immergewilde Oubaas van 7de Laan, het gesê: “Altus was baie vinnig – hy’t môre gesê en toe dadelik weggespring. Toe ek besef wat hy vra, het ek my arms in die lug gegooi van blydskap. Ek is baie gelukkig vir die tweetjies – hulle is albei sulke wonderlike en voete-op-die-aarde mense.”

Elzette Maarschalk, Zetske se ma en Altus se agent, was net so gelukkig om die nuus te hoor. “Altus is mal oor Zetske en kry dit reg om die beste in haar uit te bring. Toe hy kom ouers vra, het ek vir Zetske gevra of hy haar sal uitlos as ons "nee!" sê en sy het met 'n klein stemmetjie gesê: "Ek hoop nie so nie!" So, ons weet sy is baie lief vir hom. Ons wens albei net die beste toe!”

Zetske en Altus het mekaar in 2008 ontmoet op die stel van Kruispad. Hulle het ironies genoeg die rolle van broer en suster vertolk. Daar was dadelik ’n vonk tussen hulle en dit het vinnig in ’n verhouding ontwikkel.

Zetske is tans saam met Pierre op die stel van 7de Laan vir die opname van ‘n storielyn wat in Augustus te sien sal wees, terwyl Altus in Deon Opperman se musiekblyspel Tree Aan in die Staatsteater speel.

Hulle beplan om vroeg volgende jaar te trou.