Hoekom is musiek jou passie?
Ek sing al van voordat ek kon praat. My pa het altyd vertel hoe ek, toe ek maar vier jaar oud was, eendag in trane by hom aangekom het en gevra het wat die arme mense doen wat hemel toe gaan as hulle nie kan sing nie.
 
Het jy van die musiek en lirieke self geskryf?
Ek het twee van die liedjies se lirieke self geskryf. My gunsteling- eie komposisie is "Al die jare". Dis 'n liedjie oor my ouma en oupa en die liefde wat hulle deur als gedra het.
 
Hoe sou jy die tipe musiek waarna jy graag luister, beskryf?
My musiek wieg so tussen ligte klassiek musiek, Afrikaanse volksliedjies en liefdesliedjies, Spaanse ritmes en somtyds ook jazz. Enige musiek is vir my mooi, maar ek klassifiseer nie maklik vir kwaito-klanke of heavy metal as musiek nie. Elvis, die Bee Gees en Dolly Parton is ook vir my fantasties.
 
Wat was die grootste uitdaging daaraan om dié CD op te neem?
My druk program tydens werksure was baie veeleisend. Elke keer wat ek net-net 'n nuwe logistieke stap wou voltooi, het sake-belange, kulturele bedrywighede of sosio-politiese kwessies my aandag geverg.
 
Waar kry jy tyd vir als wat jy doen - ma-wees, raadgewer vir pres. Zuma en ander, sakevrou - en wat sê jou man van al jou bedrywighede? Hoe hou 'n mens jou huwelik aan die gang?
Enige goëlaar wat klaar met vyf balle in die lug speel, sal vir jou sê om agt of tien balle in die lug te hou, verg net 'n bietjie oefening. Wat my druk program maklik maak, is dat ek wat ek doen vreeslik baie geniet. Ek probeer elke dag gehalte-tyd met my kinders deurbring. Ek vra hulle uit oor die skooldag en wat hulle hartseer of bly gemaak het. Ons gesels baie. Die sakewêreld is boeiend en hou 'n mens op jou tone. Daar is baie geleenthede en nog meer skurke. 'n Mens moet probeer oopkop wees om dieselfde fout nie twee keer te maak nie. My man, Dieter, is 'n TV-sportregisseur wat die gevegskunsprogram Power Combat Zone op die Supersport-kanale behartig. Hy en die kinders is baie ondersteunend ten opsigte van my loopbaan en ander belange. Dieter is die vastigheid in ons gesin. Hy was nog nooit te grênd om doeke om te ruil of soms aandete voor te berei nie. Hy is 'n staatmaker-lewensmaat.
 
Wie is jou musiek-ikone?
Nana Mouskouri, Sarah Brightman, Andrea Bocelli, Barbara Streisand en Whitney Houston. Hulle het almal sterk en suiwer stemme.
 
Wanneer beplan jy jou volgende CD?
Voor die middel van 2010. Ek het pragtige materiaal oor die liefde, volkstrots, oor menswees en vir klein mensies onder ses. Die geheim lê daarin om te kies wat sal werk en op watter stadium dit sal werk. As daar genoeg tyd en geld was, het ek sommer alles gelyk gedoen.
 
Het jy ooit op skool gesing in kore of kunswedstryde?
Musiek was die een plek waar ek as kind ontsnap het. Ná elke sangles het ek gevoel ek vlieg. Van kleins af het ek in kunswedstryde en kore gesing. Ek het een keer 'n A++ by 'n kunswedstryd in Kimberley gekry vir die liedjie 'My kietie miaau'. In standerd vier het ek die hoofrol gespeel in 'n operette, Ponkie en sy donkie, by die Laerskool Grens in Oos-Londen. In die hoërskool het ek ernstig begin werk aan drama- en sangopleiding. Sondagmiddae het ek gereeld by ouetehuise gaan sing. My grootste geskenk was om in die ouer ooms en tannies se oë te sien hoe hulle deur my sang ontsnap na 'n ander wêreld. Van my gunsteling-liedjies kom uit The Sound of Music, waar ek ook my naam vandaan kry. As student het ek in die Leërvrouekollege in George in die kollege-koor en in die klein sanggroepie gesing. Ons sanggroepie het die hele land platgetoer en vir generaals en uitgesoekte gehore gesing. Dit was 'n heerlike ervaring om saam met vyf ander soldoedies wat die mooiste engel-stemme gehad het te kon sing.
 
Kry jy jou talent van jou ma of pa?
My pa se familie is baie musikaal. Hy is vyf jaar gelede oorlede en kon vreeslik mooi kitaar speel en sing. Nog mooier as Jim Reeves. My ouma het gedig en liedjies geskryf en bykans al my ooms en tannie speel die mooiste komposisies op verskeie instrumente. My ma speel kitaar en klavier en my sussie sing ook baie mooi.

Jy het al genoem dat dit geen geldmaak-storie is, dié CD nie. Jy het dit suiwer gedoen omdat dit vir jou lekker is. Maar wie ís die teikenmark?
Mense wat van goeie melodiese strukture en ordentlike musiek hou. Die dertigplus-generasie het miskien meer tyd en ervaring om goeie musiek te kan waardeer, maar ek was ook al verstom oor party jonges se musiek-insig.
 
Hoe oud is jou kinders, en sing jy vir hulle ook?
Ek sing baie vir Klara (8), Benno (11) en Rebekka (14). Ek sing ook gedurig in die huis en as ek motor ry. Al drie kinders speel klavier en het ook al hul hand met blokfluit, kitaar en viool probeer. Volgende jaar gaan ons voort daarmee. Benno hou van nuwe klaviermelodieë uitwerk en Klara sing alewig; in die bad, vir die honde . . . noem maar op.

Wat is jou gunsteling-komposisie, naas jou eie, op die CD?
Die titelsnit, 'Noudat ek groot is'. Dis 'n Stef Kruger-komposisie en het 'n pragtige, eenvoudige melodie. Die woorde van dié lied som my lewenservaring baie goed op.
 
Is jy ook lief vir dans?
Ek is gek oor dans. Ek het nie 'n saak wie vir my kyk as ek uithaal en wys nie. Dis net lekker om te beweeg op die ritmes wat deur jou siel spoel. My liedjies op dié CD is nie eintlik dans-materiaal nie. Daar sal ander wees waar ons die ritme 'n bietjie opstoot.