Ons produkte het almal ’n storie. Dis belangrik, dís wat tel
- FRANCISCE EN STEFAN GERBER, Loeriesfontein

Só sê agri-entrepreneur Stefan Gerber. Hy’s wolboer van die Noord-Kaap; ook wynboer van die Paarl. Die plaas Kripseberg vind jy diep in die Nama-hart van die Noord-Kaap, naby Loeriesfontein. Die Wes-Kaapse grens seil ook oor die een hoek van die plaas.

Stefan en sy vrou, Francisce, ’n gekwalifiseerde sjef, steur hulle juis nie aan grense nie. Wat as ’n nederige wolboerdery begin het, is vandag ’n grensverskuiwende besigheid. Die wol vir Francisce se klerereeks, Gerber & Co., is hoeka dié wat op die plaas geproduseer word.

Dis ook die naam van hul padstal op Bitterfontein, so ’n halfuur se ry van Kripseberg. Daar waar trots Suid-Afrikaanse produkte, hul wyn en wol-items, en haar deli-produkte met die etiket Soefija’s (haar ma se naam) verkoop word. Roosterkoek word ook net daar op die kole gaargemaak. Francisce is goed gekonfyt met die uitdink van gebottelde lekkertes, en saam met Stefan, met wie sy al ses jaar getroud is, behaal hulle die een entrepreneuriese mylpaal ná die ander.

Hul aanslag tot sake is uniek. Hul stempel gehalte. “Mense moenie vir my sê ek kan nie iets doen nie,” sê Stefan. Jy besef hy’t dit telkens as wolhaarstorie bewys wanneer hy praat oor die mense wat nie saam met hom geglo het in die hoë gehalte wolprodukte wat op die plaas buite Loeriesfontein vervaardig word nie.

Wat’s volgende vir die Gerbers met die mooi plaashuis (’n replika van die oorspronklike huis van Stefan se oupa) met die poeierblou hortjies en die kokerboom- “woud” teen die rantjies . . . nog ’n klein Attie? Die eenjarige rooikopseuntjie wat so vrygewig is met sy drukkies en dansies. Veral as Pa vir hom iets rock ’n’ roll-erig in Afrikaans speel op daai draagbare Bluetooth-luidsprekertjie wat hy behendig saamdra.

“Ja, seker nog enetjie . . .” gee Francisce glimlaggend toe. Met wol, wyn en welwillendheid is die Gerbers besig om die padstal van die lewe te vul met inspirasie. En nie net met hul eie planne en produkte nie. Stefan en Francisce maak dit hul besigheid om ’n sakesin ook by ander te kweek. Hulle moedig die span om hulle aan om werksverantwoordelikhede te sien as klein ondernemings. Só is jou kans op eie sukses en drome wat bewaarheid word, net groter, glo die twee.

Dis die soort ondersteuning wat dié dinamiese jong paar hul lewe lank self by familie kry. Net die vertel daarvan bring vinnig en onverwags trane van waardering by albei.

Stefan
Francisce se rok Lunar, baadjie Wizards Vintage, serp en belt stilis se eie. Stefan dra klere van Gerber & Co. – hul eie klerereeks. FOTO Marijke Willems

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE vanjaar aanpak saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en kykNET, en met die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. Maak seker jy kyk na die program elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha