BERTIE COETZEE

Lowerland, Prieska

Bertie met kitaar in die hand laat jou dink aan ’n boere Springsteen. Dié destydse lid van die rockgroep Zinkplaat ken duidelik sy storie. Hy’s Tougher Than the Rest.

Sy lewenspad het al wye draaie geloop, maar om te boer was die ewige wysie in sy gemoed. Vandag is hy en sy gesin gevestig op die familieplaas net buite Prieska en dis hier waar jy sommer met die intrapslag sy passie vir organiese produkte van hoë gehalte sien en beleef.

Hy het dalk destyds sy loopbaan as musikant verruil vir ’n lewe op die plaas, maar steeds slaan hy die kitaar. Nou as eksperimentele boer. Bertie het allerlei planne om byvoorbeeld erosie te bekamp. Bewaringslandbou is die ding wat veral by hom resoneer; dis vir hom lekker om daaroor te bly leer. Byna so lekker soos dit destyds was om by tannie Elmie van Prieska te leer kitaarspeel.

Dié oud-rocker is die derde generasie wat boer. Sy oupa, wat eerste hier was, het die plaas Lowerland genoem omdat dit so mooi groen is langs die Oranjerivier.

Jy is nie eintlik verras as jy hoor dat hy gereeld nog voor ’n mikrofoon staan nie. Dié keer met ’n deuntjie van kennis oor boerdery, wat met mense by landbougeleenthede gedeel word.

Bertie het omtrent ’n ensemble-boerdery: mielies, koring, varke, wyn, groente, pekanneute, skape en beeste. Só het elke diertjie sy plesiertjie. Sy varke hou alles mooi skoon. Hy noem hulle sy “pampoenvarke” vanweë hul spesiale organiese pampoendieet, nóg een van sy nuutskeppings. Sy skape vreet nie sy wingerd op nie, en beeste bly die maklikste om mee te boer.

’n Rock-ster, dié is hy ongetwyfeld. Mense oor die land heen ken sy naam. Hy’s net so bekend vir die manier waarop hy daai groot note getokkel het as vir sy pionierswerk in landbou. Op die vraag oor watter musiekgenre sy landboupraktyke naboots, antwoord hy blues. Want, sê hy, dit is juis binne ’n vasgestelde struktuur dat jy jou tyd kan vat en jouself kreatief kan uitleef.

Hy bewys ook dat kreatiwiteit nooit opdroog nie, die vorm verander net. Waar hy eens op verhoë sy staal(snare) getoon het, wikkel hy nou diep op die vlaktes van die Noord-Kaap, waar sy ambisieuse wysies nog lank gehoor gaan word.

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en  kykNET aanpakmet die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha