JACKY GOLIATH

De Fynne-kwekery, Paarl

“Mense is soos plante. Ons is net so afhanklik van die wind, son en reën. Niemand is ’n eiland nie.”

Destyds het Jacky en haar sakevennoot by De Fynnekwekery, Elton Jefthas, saam by die Landbounavorsingsraad buite Stellenbosch gewerk. Sy was in beheer van die fynboskwekery. Ná nog ’n seisoen saam by ’n nie-regeringsorganisasie, Agribusiness in Sustainable Natural African Plant Products, het hulle in 2001 groot gewaag en saam ’n kwekery begin, wat sy bestuur. ’n Klein agterplaasbedryf met net 1 000 fynbosplante.

“Die spreekwoordelike bloed, sweet en trane was daar. Maar vandag kweek ons 500 000 plante per jaar,” vertel Jacky trots. Haar innoverende en volhoubare landboumetodes het al talle nasionale toekennings losgeslaan.

’n Egte Jacky-uitvindsel is haar “sakkie-bome” – ’n vrugteboom wat in ’n kwekery gegroei en dan later in landerye bewortel word. Dit was die onlangse Kaapse droogte wat haar dié blink plan laat bedink het.

Sy sê sy het eerder minder plante, maar gehalteplante. “Dis soos goeie, sterk menseverhoudings. Dis alles – jy kan nie daarsonder nie. En jy móét passievol wees oor jou werk. Noukeurige bestuur van kontantvloei is net so belangrik, veral in uitdagende tye, soos wanneer die reënwolke net nie wil kom nie.”

Jacky is ook ’n kranige natuurfotograaf wat al die uithoeke van die wêreld verken het ... Japan, Singapoer, Amerika en Swede. En ná lang ure tussen haar saailinge, aan die stuur van ’n trots Suid-Afrikaanse besigheid in volle blom, vat sy graag ’n blaaskans op Paternoster.

Sou sy môre weer haar rugsak pak, is ’n maand deur Afrika haar grootste droom. Miskien terug na Rwanda, ’n plek wat haar eens diep getref het. Só diep soos haar pa se dood: ’n voëltjie-tatoe op haar enkel ter nagedagtenis aan hom.

“Ek het by 25 vasgehaak. Ek voel nie ’n dag ouer nie,” sê sy. “Ek is presies waar ek moet wees. En doenig met presies waarmee ek wil wees.”

Op Jacky se stoep voor haar huis by De Fynne-kwekery voel dit na die paradys. Dis groen en vol belofte. Dan sien jy weer daardie voëltjie, in die voortuin. “Dis my pa, hy kom check net in.”

Jacky Goliath
Jacky Goliath FOTO Marijke Willems

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en kykNET aanpakmet die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha