Wanneer jy met iemand trou, raak daardie mens se drome ook jou eie
Carol van Heerden, Grootfontein, Boshof

Op die grens tussen die Nood-Kaap en die Vrystaat, met Boshof die naaste dorp, lê die plaas Grootvallei.

Hier wei ’n kudde buffels om die huis en boer die formidabele Carol van Heerden met wild. Al ’n dekade lank, vroualleen.

Sy en haar man, Corrie, het destyds saam gedroom oor ’n plaas waar hulle met kinders en kleinkinders kon afsaal en asemhaal. Maar toe sterf hy in 2009 aan ’n tropiese virus ná ’n Desembervakansie in Mosambiek.

Sy skielike dood het haar geruk, maar eerder as om die plaas vaarwel te roep, het Carol gebly.

“Wanneer jy met iemand trou, raak daardie mens se drome ook jou eie. Julle droom mekaar se drome,” verduidelik sy.

“Hier was rekeninge om te betaal, verantwoordelikhede om na te kom. Mense werk hier, ek kon nie net tou opgooi nie.”

Sedertdien bestuur Carol die plaas op haar eie. Bly sy in haar mooi gerestoureerde plaashuis met die ou swart-en-wit marmervloer.

Dis hier waar sy ook haar liefde vir kosmaak uitleef. Haar tafel is lank en geseënd, en sy hou daarvan om mense op haar stoep te ontvang, met die buffels wat nuuskierig toekyk.

Vir haar is kosmaak koestering. En gee haar ’n kans en sy voer klein Danie, haar tien maande oue kleinseun van Johannesburg, skelm pampoen.

“Help onthou my tog om Saterdagmiddag om halftwee op Google Hangouts te gaan. Ek word weer ouma en ons hoor dan of dit ’n seun of ’n dogter is,” verklap sy.

Haar middelkind, Sjaan Potgieter, woon in Rotterdam, Nederland, en word vroeg volgende jaar vir die eerste keer ma. Carol is tranerig, maar opgewonde ná die einste Google Hangouts-gesprek met haar dogter en skoonseun Albert. Dis ’n dogter!

“Hulle beter haar Carol noem. Dis ’n saak van erf,” terg sy. Dis moeilik as die kinders so ver bly, erken sy. “Maar hierdie ouma gaan nie op haar laat wag voor sy gaan kuier nie.”

’n Hawe in die natuur vir hul nageslag – dís waaroor sy en Corrie destyds gedroom het. Sy het hul droom verwesenlik.

Ons Boere, Ons Inspirasie
Carol se klere van Nicci Boutique FOTO Marijke Willems

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE vanjaar aanpak saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en kykNET, en met die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. Maak seker jy kyk na die program elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha