Ná agt jaar weet ek nie meer wanneer ons reënseisoen is nie . . .
Hester Maasdorp, Aggeneys

Agt jaar . . . dís wanneer laas ’n druppel op die plaas Zuurwater buite Aggeneys in die Noord-Kaap geval het. Maar Hester Maasdorp sê sy wéét die reën sal weer eendag kom val, hier waar sy met skape en bokke boer. Sy’t die destydse eienaars van die plaas goed geken, en toe hulle die plaas verlaat oor die min water, het sy besluit om die stuk grond ’n tweede kans te gee. Al is die boorgate leeg en die reënwolke vergete.

Vir elke druppel water en al die voer vir die diere moet sy sélf sorg. ’n Waterpypleiding vanaf die myn waar lood, koper, sink en silwer gemyn word, bring die water waarvoor sy betaal. ’n Transaksie om te oorleef.

Die witgeverfde boomstomp voor die huis is die stille getuienis van Hester se oortuiging dat álles in die lewe ’n tweede kans verdien. Selfs ná die boom haar moeilikheid gegee het, het sy geglo dit verdien ’n plek in haar nuwe tuin, in nuwe omstandighede. Jare gelede het sy in tru-rat teen die boom vasgery en haar bakkie beskadig. Maar toe sy in 2008 saam met haar man, Deon, wat op die myn werk, op Zuurwater kom woon, het sy die boom saamgebring. Wit geverf, en deel van die voortuin se dekor gemaak. Dié is bont en versier met ornamente wat sy al oor jare versamel.

Ook klein Hêppie, ’n troetel-miniatuurperdjie, het by Hester ’n tweede kans gekry. Haar ma het die geboorte nie oorleef nie, en dit was Hester wat haar oor die piepklein perdjie ontferm het. Twee jaar oud is Hêppie, só genoem omdat sy op Nuwejaarsdag gebore is (Happy New Year!). Deesdae raak Hêppie soms nogal astrant, want sy’s nou ’n jong meisie met tienerstreke. Maar hulle twee verstaan mekaar goed, hou Hester vol.

Dis duidelik haar wêreld dié. Die veld is droog en die klippe bak in die son, maar in die dorheid blom Hester, die koningin van die woestyn en destydse kunsvlytonderwyseres. Haar hart bly oop vir haar diere. En moenie vergeet van haar vier kinders en ses kleinkinders wat gereeld, vir daai Sondagmiddagete, by Ouma kom inloer nie.

Hester se klere Wizards Vintage
Hester se klere Wizards Vintage FOTO Marijke Willems

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE vanjaar aanpak saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en kykNET, en met die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. Maak seker jy kyk na die program elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha