NOLAN ADAMS

African Olive Trading, Saldanhabaai

“Kom ons haal mense uit die rye van maatskaplike toelaes. Ek wil hê my kinders moet die besigheid na ’n volgende vlak neem eendag.”

Só praat Nolan Adams, eienaar-boer by die grootste swartmosselboerdery in ons land, African Olive Trading op Saldanhabaai.

“Wat ek doen, is iets anders – ek boer op die see. Ek is alternatief en lief vir dié andersheid. Vat nie nee vir ’n antwoord nie, en doen dinge vir die volgende generasie,” sê die staatsman-agtige mosselboer met ’n hart vir sy gemeenskap, en veral kinders.

“Ek het twee seuns en een vrou, Salomé. My oudste se naam is Jabu. Dis die Zoeloe-woord vir vreugde,” verklap die lang man met die hoë mondhoeke, te danke aan die feit dat hy baie glimlag. Jabu is elf en sy laatlam Zach, drie. Dié pa is lewenslustig, lief vir sy mense en kom met ’n gety ervarings.

“Ek glo vas jy moet niks langer as tien jaar doen nie. Dit belemmer jou groei.”

Voorheen was hy vir nege jaar en drie maande ’n wiskundeonderwyser. In dié rol wou hy graag in kinders se kop “inklim”. Die klaskamer het hy ingespan as ’n plek waar hy kinders kon leer leef – deur hulle met ’n sakrekenaar van goeie oordeel toe te rus. Ná klastoetse en Sin Cos Tan-lesse het hy graag gesels oor nuusgebeure, en ’n belangstelling in aktuele kwessies gekweek.

Voor sy dae in die onderwys was hy ’n staatsamptenaar, waar hy ook diens gedoen het as munisipale distriksbestuurder.

“Ek verstaan wat gedoen moet word. Nie net met balansstate nie, maar met die volle 360 grade van menswees en besigheid. Suid-Afrika het soveel geleenthede, al sê mense wat.” Sy regterhand, Jerome Speedy, beaam dat hy en die res van die span by African Olive Trading geanker voel danksy Nolan se leierskap: “Die manier waarop hy dinge gedoen kry, inspireer my.”

Hy boer met mossels, so vanwaar die Olive in die naam? “Ja, snaaks, olywe is dan goed wat aan ’n boom hang, maar ek’t besluit om die naam van die plaas te behou ná ek dit destyds oorgekoop het.”

Oor sy produk sê hy mens en mossel het ’n groter rol om te speel as slegs hul ekologiese een. “Mossels word te veel in restaurante bestel, ons moet dit in die yskas van elke huishouding kry. Dis ’n bekostigbare, lekker én gesonde proteïen.”

Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en  kykNET aanpakmet die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha