Ná vier jaar se droogte kon Peter en Francy Schoeman van die plaas Langbaken buite Williston uiteindelik weer die reuk van nat Karoo-grond inasem. Die hemel het sy sluise oopgemaak en 34 mm reën het geval, drie weke voor die nuwe dekade aanbreek.

Hulle het gelag, hulle het gehuil. En toe die klank van reëndruppels op hul sinkplaatdak val en val, het dit mooier as ’n uitvoering van Vivaldi se Vier Seisoene geklink.

“Dit was ’n groot vreugde vir ons sintuie. Ons is oorweldig, ons is verlig. Ons wou uithardloop en in die reën gaan dans, maar die donderweer was te swaar. Toe hardloop ons net van venster tot venster. Ons kon nie glo wat ons sien nie,” vertel Francy.

In die vierde episode van Ons Boere, Ons Inspirasie het kykers die Schoemans ontmoet. Die inspirerende paartjie het kykers emosioneel gelaat toe die gevolge van die genadelose droogte op Langbaken blootgelê is.

Voor die reën. SKERMGREEP Youtube / SARIE

In ’n SARIE-onderhoud met een van die OBOI-aanbieders, Eloise Pretorius, het Peter vertel: “Die droogte het ons nader aan mekaar gebring.”

Die egpaar is albei betrokke by Williston Droogtehulp. Peter met die uitdeel van voer en ander skenkings, Francy met die bewusmaking daarvan. “Williston se mense is wonderlik, jy kan byna nie glo hoe gretig boere is om mekaar te ondersteun nie.”

Die Schoemans se portret vir SARIE se November-uitgawe. FOTO Marijke Willems STILERING Fanie Cronjé met die hulp van Magdel Muller.

Nog reën word vir Sondag voorspel. “Maar dis verspreide donderbuie, daar is steeds mense in die distrik wat nog nie reën gekry het nie. Dit maak dit eintlik moeilik om heeltemal fees te vier.”

Die reën het hulle weer moed gegee om teen die droogte te baklei. “Die weer is hier, dit is in die omgewing.”

Tonele op Langbaken ná die reën. FOTO’S Verskaf
34mm reën het geval. FOTO’S Verskaf

Peter en Francy se harte gaan steeds uit na die gemeenskap. “Ons ken die Karoo. Oor dit so verskriklik lank droog was, gaan die warm dae wat kom die water taamlik vinnig uitdroog. Ons maak egter staat op opvolg-reën om hopelik die vog te behou, sodat die plantjies en saadjies dit kan regkry om te ontkiem. Ou wil so graag hê die droogte moet op een slag in die hele distrik gebreek word. Dan kan ons almal sáám bly wees daaroor.”

Maar ’n boer ken nie van opgee nie – die Schoemans hou hul oë op die hemele en hul knieë op die grond.

“Ons is hoopvol.”

Kyk #OnsBoereOnsInspirasie, Donderdagaande om 21:00 op kykNET. Trots geborg deur GWKJohn Deere en McDonald's. Met die hulp van Agri SA.