Dís ons boere en dís hulle stories. Dít is Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE saam met GWKMcDonald’s SAJohn Deere en  kykNET aanpakmet die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. 

Die SARIE-span agter Ons Boere, Ons Inspirasie*:

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha

Nolan Adams
Nolan vat nie nee vir ’n antwoord nie, en doen dinge vir die volgende generasie . . . vir sy eie twee seuns, Jabu (11) en laatlam Zach (3), ja, maar ook die groter gemeenskap. FOTO Marijke Willems

NOLAN ADAMS

African Olive Trading, Saldanhabaai

Ek boer op die see . . . ek’s alternatief en lief vir dié andersheid
Nolan Adams

“Ek glo vas jy moet niks langer as tien jaar doen nie. Dit belemmer jou groei.”

Voorheen was hy vir nege jaar en drie maande ’n wiskundeonderwyser. In dié rol wou hy graag in kinders se kop “inklim”. Die klaskamer het hy ingespan as ’n plek waar hy kinders kon leer leef – deur hulle met ’n sakrekenaar van goeie oordeel toe te rus. Ná klastoetse en Sin Cos Tan-lesse het hy graag gesels oor nuusgebeure, en ’n belangstelling in aktuele kwessies gekweek.

Voor sy dae in die onderwys was hy ’n staatsamptenaar, waar hy ook diens gedoen het as munisipale distriksbestuurder.

“Ek verstaan wat gedoen moet word. Nie net met balansstate nie, maar met die volle 360 grade van menswees en besigheid. Suid-Afrika het soveel geleenthede, al sê mense wat.” Sy regterhand, Jerome Speedy, beaam dat hy en die res van die span by African Olive Trading geanker voel danksy Nolan se leierskap: “Die manier waarop hy dinge gedoen kry, inspireer my.”

Hy boer met mossels, so vanwaar die Olive in die naam? “Ja, snaaks, olywe is dan goed wat aan ’n boom hang, maar ek’t besluit om die naam van die plaas te behou ná ek dit destyds oorgekoop het.”

Oor sy produk sê hy mens en mossel het ’n groter rol om te speel as slegs hul ekologiese een. “Mossels word te veel in restaurante bestel, ons moet dit in die yskas van elke huishouding kry. Dis ’n bekostigbare, lekker én gesonde proteïen.”

Rean Clasen
Die Clasens doen ’n ding op die régte manier, al is dit ’n duurder manier. FOTO Marijke Willems

RÉAN CLASEN

Kleinplaas-boerdery, Groblershoop 

Réan Clasen
Réan Clasen FOTO Marijke Willems
Dis ’n goeie plek, hier’s goeie mense. Dis die Noord-Kaap se storie.
Réan Clasen

“Ek was nog nooit oorsee nie. Robbeneiland is die verste wat ek al was. Ek het ’n meisie, ons het planne om te reis. Ek wil die wêreld sien.”

Tog is hy dankbaar vir sy adres, sê Réan, wat in 2018 Raisin SA se Jongboer van die Jaar was en SA leer ken het in kykNET se Boer soek ’n vrou.

“Hierdie is ’n klein plek, hier’s goeie mense. Dis maar die storie in die Noord-Kaap, dis ’n veilige omgewing. Die water van die Oranjerivier is ’n groot rede vir ons sukses.”

Réan, wat wingerdkunde aan die Elsenburg-landboukollege op Stellenbosch geswot het, se ouers boer op ’n plaas 40 km verder. “Ons sit baie in. Doen ’n ding op die regte manier, al is dit ’n duurder manier. Ek het in die Oos-Kaap op ’n melkplaas grootgeword. Ons het hier begin boer met wingerd vir rosynmaakdoeleindes toe ek nog op skool was en toe nog besproeiing teen die rivier gevestig.”

Sy selfontwerpte huis is elegant en op sy ruim stoep wat deur wingerd omring word, is dit bekoorlik om na die jong man se planne vir die toekoms te luister. Oor Suid-Afrika sê hy: “Hier is groot geleenthede en ek is positief. Elke land het sy eie uitdagings. Baie mense soek werk en ons hét baie werk. Ons klimaat is ideaal en van die beste in die wêreld. Daar is geleenthede vir uitbreiding wat nie te rof op jou sak gaan wees nie.”

Dis vir hom belangrik om die mense van Kleinplaas op te bou. Om vir die gemeenskap terug te gee. Daarom neem hy inisiatief en borg ’n sokkerspan vir toernooie. Hy betaal vir die klere, die balle en die afrigting. Glo dit sal ander kinders inspireer.

“Maar jy moet skool toe gaan om ’n lid van die sokkerspan te wees. Ek gló in sport. Die kinders in die span is tussen 16 en 18 jaar oud. Hulle speel goed! Die klub se naam is Vision FC.”

Réan deel ook sy woning met drie prettige diere. Kallie die boerboel, die Jack Russell, Lielie, en die agt maande oue vlakvarkie, Jasper, wat sy tande se skoffelvermoëns gereeld in die tuin toets. Klein Lielie is sy skaduwee, en jag-ekskursies glo haar gunsteling. Die wiele van die bakkie rol nooit sonder dat sy op sy skoot sit nie.

Die saggeaarde boer is die kans gegun om te woeker met sy talente. Danksy die ondersteuning van sy familie en die gawe om potensiaal raak te sien. Vandag belê hy in die ontginning van ander se potensiaal, sodat hulle, nés hy, hul doelwitte kan bereik. 

Lourens van der Linde
’n Ligte oomblik tussen die Van der Linde-manne. Van links die broers Cobus, Francois en Lourens en pa Lourens Senior. Op Wesselsbron ken hulle hul “moeilikheid”, reken Lourens. “Ons weet hoe om dit te hanteer.” FOTO Marijke Willems

LOURENS VAN DER LINDE

Klein Constantia en Rietvlei, Wesselbron

Hulle’t almal stérk ingeboude persoonlikhede
Liesie van der Linde oor haar Van der Linde-mans

“Hulle’t sterk ingeboude persoonlikhede,” verklaar ma Liesie oor die Van der Linde-mans van Klein Constantia. Hier waar gesaaides gesny word op die land waar daar al vir dekades geïnspireerd gesaai word.

Sy praat oor haar man, Lourens Senior, en sommer ook oor sý pa, Anna Jacobus Hendrik (Annes) van der Linde wat op 24 Januarie 1923 gebore is. Dié is genoem na sy ma, Anna Sophia van der Linde, gebore 24 Januarie 1889.

Ma Liesie verwys ook na haar drie seuns, haar jintelmandriemanskap. Die broers Lourens, Francois en Cobus wat almal betrokke is by die Van der Linde-familiesaak. Dit sluit LFC-meule – wat hoeka staan vir Lourens, Francois en Cobus – op Wesselsbron in.

Elkeen speel ’n uiteenlopende rol in die besigheid waar die familie by die volle waardeketting betrokke is. Van grond tot tafel. Van aanplanting tot stroop, verwerking en die uiteindelike verkoop van koring- en mielieprodukte.

Ouboet Cobus sorg dat die operasionele bestuur van LFC-meule vlot, Francois waak oor finansies en Lourens is die kleinboet met mielies en koring in sy are wat saam met sy pa boer. “Dít maak mens wie jy is – dis lekker dat ons ons eie produk kan verwerk,” laat hy trots van hom hoor.

Bésig is die Van der Lindes. “Ek wens ons kon Kersfees Februarie toe skuif. Gelukkig loop ons ons bure by die see raak wanneer ons by Groot-Brak is. Ons sien hulle juis nie deur die loop van die jaar nie; ons is te besig.”

Só verduidelik Lourens sy skedule wat plant- en oestyd moet byreken.

Dis op Klein Constantia, die kern van die besigheid en die plaas waar die seuns grootgeword het, dat ma Liesie en pa Lourens woon. Vir Francois en Lourens is Wesselsbron huis, met Cobus wat elke oggend van Welkom af ry.

Die jaar ná skool het Lourens gereis na Nederland, Switserland, Amerika, Duitsland, Australië en Nieu-Seeland en op skaapplase gaan werk.

“Mens is maar jonk en dom ná skool. Hierdie reise het my lewe verander. Ek is bly ek het dit gedoen voor ek gaan swot het. Alabama was my gunsteling. Die mense daar is wonderlik en laat my dink aan die Wesselsbronners.

“Maar ek moet áltyd terugkom hierheen. Ons ken ons moeilikheid, en weet hoe om dit te hanteer.”

Dis die vlaktes van die kontrei, hier waar plase interessante name het soos Groot Brittanje en Londen, en die Van der Lindes die aarde bewerk, wat hom elke dag bekoor.

“Ek wil hier wees, al is die sandgrond moeilik om op te boer,” sê Lourens, wat ’n graad in landbou-ekonomie het.

Op die vraag om iets oor homself te verklap wat weinig mense weet, sê hy half skaam: “Ek kan skaap klas. In Australië geleer ...”

Jacky Goliath
Sy is presies waar sy moet wees; doenig met presies waarmee sy wil wees FOTO Marijke Willems

JACKY GOLIATH

De Fynne-kwekery, Paarl

Jacky Goliath
Jacky Goliath FOTO Marijke Willems
Ons is soos plante, afhanklik van wind, son en reën
Jacky Goliath

“Mense is soos plante. Ons is net so afhanklik van die wind, son en reën. Niemand is ’n eiland nie.”

Destyds het Jacky en haar sakevennoot by De Fynnekwekery, Elton Jefthas, saam by die Landbounavorsingsraad buite Stellenbosch gewerk. Sy was in beheer van die fynboskwekery. Ná nog ’n seisoen saam by ’n nie-regeringsorganisasie, Agribusiness in Sustainable Natural African Plant Products, het hulle in 2001 groot gewaag en saam ’n kwekery begin, wat sy bestuur. ’n Klein agterplaasbedryf met net 1 000 fynbosplante.

“Die spreekwoordelike bloed, sweet en trane was daar. Maar vandag kweek ons 500 000 plante per jaar,” vertel Jacky trots. Haar innoverende en volhoubare landboumetodes het al talle nasionale toekennings losgeslaan.

’n Egte Jacky-uitvindsel is haar “sakkie-bome” – ’n vrugteboom wat in ’n kwekery gegroei en dan later in landerye bewortel word. Dit was die onlangse Kaapse droogte wat haar dié blink plan laat bedink het.

Sy sê sy het eerder minder plante, maar gehalteplante. “Dis soos goeie, sterk menseverhoudings. Dis alles – jy kan nie daarsonder nie. En jy móét passievol wees oor jou werk. Noukeurige bestuur van kontantvloei is net so belangrik, veral in uitdagende tye, soos wanneer die reënwolke net nie wil kom nie.”

Jacky is ook ’n kranige natuurfotograaf wat al die uithoeke van die wêreld verken het ... Japan, Singapoer, Amerika en Swede. En ná lang ure tussen haar saailinge, aan die stuur van ’n trots Suid-Afrikaanse besigheid in volle blom, vat sy graag ’n blaaskans op Paternoster.

Sou sy môre weer haar rugsak pak, is ’n maand deur Afrika haar grootste droom. Miskien terug na Rwanda, ’n plek wat haar eens diep getref het. Só diep soos haar pa se dood: ’n voëltjie-tatoe op haar enkel ter nagedagtenis aan hom.

“Ek het by 25 vasgehaak. Ek voel nie ’n dag ouer nie,” sê sy. “Ek is presies waar ek moet wees. En doenig met presies waarmee ek wil wees.”

Op Jacky se stoep voor haar huis by De Fynne-kwekery voel dit na die paradys. Dis groen en vol belofte. Dan sien jy weer daardie voëltjie, in die voortuin. “Dis my pa, hy kom check net in.”

Bertie Coetzee
Sabrage . . . die tegniek om ’n sjampanjebottel seremonieel met ’n sabel oop te maak deur die nek af te kap. Bertie doen dit ewe goed met ’n graaf! FOTO Marijke Willems

BERTIE COETZEE

Lowerland, Prieska

Om te boer is die ewige wysie in sy gemoed
Bertie Coetzee

Bertie met kitaar in die hand laat jou dink aan ’n boere Springsteen. Dié destydse lid van die rockgroep Zinkplaat ken duidelik sy storie. Hy’s Tougher Than the Rest.

Sy lewenspad het al wye draaie geloop, maar om te boer was die ewige wysie in sy gemoed. Vandag is hy en sy gesin gevestig op die familieplaas net buite Prieska en dis hier waar jy sommer met die intrapslag sy passie vir organiese produkte van hoë gehalte sien en beleef.

Hy het dalk destyds sy loopbaan as musikant verruil vir ’n lewe op die plaas, maar steeds slaan hy die kitaar. Nou as eksperimentele boer. Bertie het allerlei planne om byvoorbeeld erosie te bekamp. Bewaringslandbou is die ding wat veral by hom resoneer; dis vir hom lekker om daaroor te bly leer. Byna so lekker soos dit destyds was om by tannie Elmie van Prieska te leer kitaarspeel.

Dié oud-rocker is die derde generasie wat boer. Sy oupa, wat eerste hier was, het die plaas Lowerland genoem omdat dit so mooi groen is langs die Oranjerivier.

Jy is nie eintlik verras as jy hoor dat hy gereeld nog voor ’n mikrofoon staan nie. Dié keer met ’n deuntjie van kennis oor boerdery, wat met mense by landbougeleenthede gedeel word.

Bertie het omtrent ’n ensemble-boerdery: mielies, koring, varke, wyn, groente, pekanneute, skape en beeste. Só het elke diertjie sy plesiertjie. Sy varke hou alles mooi skoon. Hy noem hulle sy “pampoenvarke” vanweë hul spesiale organiese pampoendieet, nóg een van sy nuutskeppings. Sy skape vreet nie sy wingerd op nie, en beeste bly die maklikste om mee te boer.

’n Rock-ster, dié is hy ongetwyfeld. Mense oor die land heen ken sy naam. Hy’s net so bekend vir die manier waarop hy daai groot note getokkel het as vir sy pionierswerk in landbou. Op die vraag oor watter musiekgenre sy landboupraktyke naboots, antwoord hy blues. Want, sê hy, dit is juis binne ’n vasgestelde struktuur dat jy jou tyd kan vat en jouself kreatief kan uitleef.

Hy bewys ook dat kreatiwiteit nooit opdroog nie, die vorm verander net. Waar hy eens op verhoë sy staal(snare) getoon het, wikkel hy nou diep op die vlaktes van die Noord-Kaap, waar sy ambisieuse wysies nog lank gehoor gaan word.

Spicer de Villiers
Elke nou en dan verruil hy sy druiwepars vir sy branderplank. FOTO Marijke Willems

SPICER DE VILLIERS

Kleinood, Stellenbosch 

Hier kom ’n klomp mense se passies bymekaar
Spicer de Villiers

Hulle is soos ’n nes vol meerkatte, beskryf Spicer hul familieplaas Kleinood wat hy net buite Stellenbosch bestuur. “Ons neem nie besluite sonder mekaar nie. Ons is regtig mal oor mekaar.”

Sy pa, Gerard, ’n ingenieur, wou ná die soveelste wynkelder wat hy ontwerp het, self wyn begin maak. Dit was 20 jaar gelede. Vir die eerste vyf jaar het hulle druiwe aangekoop vir wyn. Teen die tyd wat hul eie wingerd begin vrug dra het, was die naam van hul wyne, Tamboerskloof, reeds gevestig tussen glase en kurkverlossers. Só genoem na die geliefde woonbuurt waar hulle gewoon het in die Kaapse middestad voordat hulle plaas toe verhuis het.

Alles op die plaas het ’n baie natuurlike evolusie gehad, vertel Spicer. Dis familiegedrewe en ’n plek waar ’n klomp mense se passies bymekaar kom. ’n Goeie voorbeeld sy ma, Libby Daniels (die aktrise bekend vir haar rol as Annette Steenkamp in die TV-reeks Arende), se De Boerin-olyfolies wat hier vervaardig word.

Spicer is geen bynaam nie. Hy is John Spicer de Villiers gedoop, ’n naam wat sy ouers in ’n boek gevind het. En wat tot groot vermaak en geterg van sy klasmaats in die laerskool gelei het toe die Spice Girls se musiek doerietyd begin bekend raak het.

Dié hombre wat al reg oor Suid-Amerika met sy rugsak gereis het, se ondeundheid is onweerstaanbaar. Hy verklap skalks: “Ek praat genoeg Spaans om my in die moeilikheid te kry. Ek praat ook genoeg Spaans om my uit die moeilikheid te kry.” Hy het selfs al ’n draai in Antarktika gemaak.

“Ek reis baie en het gereeld met oorsese kliënte te doen. Mense praat met bewondering oor ons land en dan kan jy nie anders as om te voel hoe swel jou bors nie. Suid-Afrika is ’n dinamiese land met baie geleenthede. Almal werk hard om iets hier reg te kry en dis spesiaal.”

Dis hierdie einste reise wat dien as inspirasie vir een van sy toekomsplanne. Hy wil boeke skryf. Rillers en reisverhale; ’n paar proeftekste lê al op sy rekenaar. In ’n stadium was hy in die advertensiebedryf en het heelwat met wynhandelsmerke gewerk, nou voel hy sy reis het volsirkel gekom.

Op Kleinood leef Spicer sy lewe tussen die druiwe en die diep blou see. En, so elke nou en dan verruil hy sy druiwepars tussen die Bolandse berge vir ’n branderplank, volgens hom ’n passie van baie wynmakers.