O Ons boere . . . altesame 36 000 saam met hul plaaswerkers, wat vir 56 miljoen Suid-Afrikaners sorg. Kos op ons tafel sit, die oes van land en see op ons bord. En in ons glas, die sonskyn van ons vrugteboorde. Vir hulle is hul plase – soms vir geslagte lank – ’n stukkie hemel. ’n Eden in die kleine om seisoen ná seisoen aan Suid-Afrika en sy mense te voorsien. Om voorspoed te bring en ’n toekoms te help skep. Soms word daardie grond ’n stukkie hel, wanneer die aarde smeek om reën en diere swaarkry – diere wat dikwels name het en nie net nommers nie. Wanneer die belofte om te voorsien in die stof verdwyn, en slegs #genade oorbly. Maar álles verdien ’n tweede kans, glo ons boere. Die grond, ons diere, planne, mense. Ook hoop en drome. Dan ontplof innovasie en floreer skeppendheid. Word inspirasie gevind in die natuur, in kleure en geure, in hartsplekke en ’n helpende hand.

Dít is die inspirasie agter Ons Boere, Ons Inspirasie*. Die projek wat SARIE vanjaar aanpak saam met GWKJohn Deere McDonald's en kykNET, en met die ondersteuning van Agri SA. Boere oor dertien kykNET-episodes, drie uitgawes van SARIE (November en Desember 2019, en Januarie 2020) en gereelde bydraes op SARIE.com. Om die boere en hul vreugdes en vasbyt te leer ken het ’n spesialisgroep van SARIE saam met die TV-span gereis van Douglas aan die Vaalrivier tot aan die voet van die Paarlberg in die suide; van dorre Marydale in die Noord-Kaap tot Williston in die Groot-Karoo. Elke storie is mooi en raak aan jou hart. Die eerste vier unieke foto’s in dié uitgawe vertel elk ’n spesiale verhaal.

- Michélle van Breda, SARIE Redakteur

Kyk ‘Ons Boere, Ons Inspirasie’ elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET. Trots geborg deur GWKJohn Deere en McDonald's. Met die hulp van Agri SA.

FOTO’S Marijke Willems

KONSEP EN STILERING Fanie Cronjé

WOORDE Eloise Pretorius

MEDE-STILEERDER Magdel Muller

GRIMERING EN HARE Alex Botha

Monique Schabort
Monique en twee van haar spogperde, FOMO en UN/Glorious Moment 2017. Rok, belt en kunspelsjas Wizards Vintage, oorbelle Lovisa

MONIQUE SCHABORT

Paarl Diamant, naby die Paarl

Ek het my liefde vir perde herontdek

Amerikaanse saalperde was tot op twaalf haar liefde. Iets wat sy met haar pa gedeel het, maar ná sy dood op die agtergrond moes skuif. Moes vergeet.

Tot sy haar man, ’n kranige polo-speler, ontmoet het en haar liefdesverhouding met dié spesiale diere opnuut opgevlam het. Perde is ’n gedeelde passie vir Monique en Louw Schabort van die spoglandgoed Paarl Diamant, ’n perde- en gasteplaas naby die Paarl, wat al dekades in die Schabortfamilie is. Sy leef haar passie uit as teler, rehabiliteerder en opleier, en hy is ’n bekende perde-tandarts in die omgewing.

“Vandat ek 21 was, het ek op groot brands gewerk. Maar ek wou my eie ding doen,” verduidelik dié voormalige bemarkingskoördineerder. Deesdae maak een resiesperd ná die ander sy opwagting op die plaas.

Haar perdepassie het haar selfs al met koninklikes in aanraking gebring. So vier jaar gelede het prins Harry op die nabygeleë Val de Vie kom polo speel. “Hy het van een van my vriende se perd afgeval, maar gelukkig niks oorgekom nie!”

Maar plaas was dit nie altyd vir Monique nie. Sy en Louw het vir ’n jaar in Bahrain gewoon waar hy polo afgerig het. Hier het sy van haar ander passies ontdek – die skatte van die Midde-Ooste, die spesery-markte, allerhande sigeuner-goed. Eksotiese verhalende oorbelle het ’n vastrapplek in die stiebeuels van haar hart kom kry.

Sy dink ook aan Hongarye met sy ouwêreldse sjarme en versteekte skatte. “Boedapest is ’n juweel. Veral die plekkies en markte wat mens nie op die bekende toeristeweë vind nie,” verduidelik sy terwyl sy voet in die hoek sit op pad stalle toe.

Vir die lewenslustige Monique lê daar nog baie wêreldreise voor. Maar vir nou is hul Bolandse plaas, met die Paarl-rots glinsterend aan die een kant, die plek waar die Schaborts saamwerk in die wedren van die lewe.

Peter en Francy Schoeman
Peter en Francy Schoeman saam met hulle boerboel Jeff. Francy se rok Lunar, juwele en jas haar eie. Peter dra sy eie klere. Dekor kom uit hul eie huis.

PETER EN FRANCY SCHOEMAN

Langbaken, Williston

Die droogte het ons nader aan mekaar gebring

Francy en Peter Schoeman se liefdesverhaal het diep in Afrika vlamgevat. Voor hulle op 35 getroud is, het hulle op ’n motorfiets om die kontinent gaan toer.

Sy is oorspronklik van Zimbabwe, en het ook ’n ruk in Zambië en Botswana gebly voor haar familie hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Twintig jaar laas was sy in haar geboorteland. “Ek moes my huis agterlaat, maar ek het weer ’n tuiste gevind.”

Op die plaas Langbaken naby Williston in die Groot-Karoo word daar met skape en melkkoeie geboer. Francy woeker met handgemaakte boetiekkaas en Peter eksperimenteer met vlytbier. Kaas is nou die hoofgereg op ’n plek waar boere nuwe planne moes maak om die droogte te oorleef. “Dis nou al vier jaar droog. Ons moes dinge anders begin benader,” verduidelik hy. En vandag wen Langbaken-kaas die een toekenning ná die ander.

Uiteenlopende persoonlikhede – dís hoe hulle mekaar uitbalanseer op die plaas, sê Francy en Peter so saam-saam. Hy sorg vir die melkgehalte, sy span haar kennis as sjef in om die kaaskultuur net reg te kry.

Maar hul sorg strek veel wyer as Langbaken. Albei is betrokke by Williston Droogtehulp. Hy met die uitdeel van voer en ander skenkings, en sy met die bewusmaking daarvan. “Williston se mense is wonderlik, jy kan byna nie glo hoe gretig boere is om mekaar te ondersteun nie. Die droogte het ons nader aan mekaar gebring.”

Francy se hart het veel meer plek as net vir mense. By die kombuisdeur waak ’n stewige boerboel wat met ’n leeulyf langs die bakkie hardloop wanneer sy mens-ma by die plaashek ingery kom. Jeff se vorige ouers kon hom nie meer aanhou ná hulle alles in die Knysna-brande verloor het nie.

“Ek’t hom op tweejarige ouderdom ge-rescue. Hierdie is nou sy huis.”

Etienne van Wyk
Kom ontmoet Jackie Chan, Bruce Lee en vir Dries ... Hemp Old Khaki, broek en skoene sy eie, hoed Tread and Miller, skaakstel House of Chess Randburg (079 106 0106)

ETIENNE VAN WYK

Spes Bona, Marydale

Jy moet jou lewe aanpas soos die natuur dit bestuur

“Jackie Chan is my nuwe rammetjie. Hy’t goeie vleiseienskappe. Maar kom, ek wys Bruce Lee ook vir jou. Ek noem hom so, want hy wil net fight. En dan’s daar Dries. Hy’t goeie lyflengte. ’n Sterk geboude ram. Ek’t hom genoem na iemand wat ek ken,” stel Etienne van Wyk trots sy kudde bekend.

Die pad na die plaas Spes Bona buite Marydale in die Noord-Kaap is opvallend lank en verlate. Eers ’n uur op ’n teerpad vanaf Prieska en dan nóg ’n uur op ’n grondpad na ’n plek waar jou oë in alle rigtings spoed optel.

Etienne se pa was ’n skaapwagter op die plaas waar die saadjie vir Etienne se eie lewe as boer geplant is. Die eienaar van die destydse plaas, Dries, het gou agtergekom dat die jong man se nuuskierigheid ’n teken was van ’n toekomsboer met vleis om die lyf. Hy’t hom gehelp om ’n landboukwalifikasie en uiteindelik ’n plaas te kry.

Vandag is die mylpale volop. Nie net is Etienne ’n kookwater-skrumskakel by ’n rugbyklub in die distrik nie, maar ook ’n kranige skaakspeler.

“Weet jy, skaak leer mens geduld. Dit help my met die boerdery,” sê die passievolle boer wat ooglopend peins oor sy volgende skuiwe in die lewe.

“Jy moet jou lewe aanpas soos wat die natuur dit bestuur. In droogtetye moet jy so leef dat jy met min water en geld kan klaarkom. As die veld groen is, kan jy weer bietjie fancy lewe. Dan kan jy jou plaas opknap, dalk jou huis verf. Jy moet jou leefwyse aanpas by die omstandighede waarin jy verkeer.”

Etienne se enigste dogter gaan skool op Loxton. Die 10-jarige Thaniell droom om saam met haar pa te boer.

Dan vertel hy: “Eens op ’n dag het ek in die windpomp opgeklim. Ek’t nie eintlik besef hoe dit lyk op Spes Bona nou in die droogte nie. Iets sê vir my, kyk net om. Toe besef ek, maar hier is dan niks op hierdie grond nie. Ek dink, maar Etienne, jy bemark nog steeds lammers, jou ooie lam steeds. Hoe kry jy dit reg? En toe besef ek: bestuur, organisering en #genade is hier steeds op Spes Bona.”

Ons Boere, Ons Inspirasie
HF met sy visstok langs die Vaalrivier, sy “happy place”. Hemp Pingle, onderbaadjie Rosslyn Signs & Promotions, broek en skoene sy eie, hoed en visvangsak stilis se eie

HF CILLIERS

De Hoek, Douglas

Ek is gemaak vir Suid-Afrika. Hier bly ek

“Daar’s so baie van ons, die noemname is al op!” Só verduidelik HF Cilliers van die plaas De Hoek op Douglas sy ryk familiegeskiedenis. Die Cilliers’s is lief vir die aarde hier. Reeds vir vyf generasies word op die plaas teruggeploeg, nie net in die vrugbare grond nie, maar ook in die gemeenskap.

HF, die oudste seun en naasoudste van vyf kinders, boer met lusern, aartappels, gars, koring, hawer, mielies, uie en pekanneute. Sy ouer suster en jonger broers beskryf hom as die kwaaiste van al die kinders, maar die spilpunt van hierdie passievolle familie.

Spilpunte is volop. Destyds is daar vir HF gesê hy sou nooit in die omgewing kon besproei nie. Maar dit het nie dié innoverende boer gestuit nie en al vir jare is sy grond onder besproeiing nadat hy sy eie spilpunte ontwerp het.

Buiten sy liefde vir die grond, is HF ook vuur en vlam dat die plaaslike skool ondersteun moet word, want dis die kern van die gemeenskap se gesondheid en groei. “Die kinders moet hier skool toe gaan. Sonder die skool loop ons dorp dood, kry die gemeenskap swaar.” Dié pa van twee se oë raak sag wanneer hy die omvang van die saak verduidelik. En jy glo hom, want by die Cilliers’s van Douglas is familie goud werd. Dis juis hierdie bande wat maak dat hulle vooruit boer.

Hul riviervesting, Vaallus, is sy “happy place”, sê HF. “Ons vang al vir jare teen die rivier vis. Om die waarheid te sê, ons gaan nie eens weg oor Desembervakansies nie, dis net te lekker hier.” Langs die waters van die Vaalrivier het die Cilliers’s ’n ry huisies opgerig wat jou laat dink aan die ryk kleure van die Bo-Kaap. Dis waar hulle saamkuier en saamdroom.

Sy wortels lê diep op die plaas, sê HF. “Ek is gemaak vir Suid-Afrika. Hier bly ek.”

Moenie SARIE se Desember-uitgawe misloop nie wanneer ons boere van Boshof, Loeriesfontein, Namakwaland en Wesselsbron wys. *Ons Boere, Ons Inspirasie is Donderdae om 21:00 op kykNET (kanaal 144) te sien. Na afloop van elke episode sal dit ook op DStv Catch Up wees.