Donderdag om 23:59 begin 21 dae van inperking. Ons het reeds verskeie bekendes en ’n kenner se wenke gedeel oor hoe om “cabin fever” oftewel kajuitkoors te keer - lees meer hiér. Nou deel ons ook hul gunsteling-reekse en wat hulle dink jy gerus kan kyk.

Die akteur en vervaardiger De Klerk Oelofse het tans ’n “gesonde” obsessie met die Netflix-reeks Shtisel, wat in Israel vervaardig is. “Ek is versot daarop. Dit gaan oor ’n Ortodokse Joodse familie wat in Jerusalem woon. Dis een van my gunstelingreekse omdat geen toneel uitdraai soos jy dink dit gaan nie.”

En as jy stout is vir ’n realiteitsreeks kan De Klerk Cheer op Netflix aanbeveel. “Ek het eers gedink ’n reeks oor cheerleaders gaan simpel wees, maar voor jy jouself kan help is jy so lief vir die klomp. Jy volg hulle sommer almal op sosiale media.”

Natuurlik beveel hy ook Hotel se drie seisoene op Showmax aan. “Dis ’n lekker lag en oefening in binge-kyk. Showmax het ook ’n goeie versameling Afrikaanse films. Jy het nou die tyd om by al die flieks uit te kom wat jy nog nie voorheen gesien het nie. Jy sal sommer ook kan sien hoe ons bedryf oor die laaste paar jaar floreer het.”

Die aktrise Christia Visser het die Amerikaanse reeks Gilmore Girls onlangs weer van voor af begin kyk. “Ek kyk ook die laaste paar seisoene van The Office. En op Showmax kyk ek Noughts + Crosses en Westworld.”

Akteur Edwin van der Walt beveel die volgende kosreekse op Netflix aan: The Chef Show, Million Dollar Menu en Zumbo’s Desserts.

Die sangeres Leah kyk al America’s Got Talent se Golden Buzzer-oomblikke op YouTube. “Verder kyk ek Selfmade en The Ellen Degerenes Show.”

Die akteur en skrywer Stiaan Smith beveel ook Hotel aan. “En natuurlik al die flieks waarin ek speel. Jokes ...” lag hy. Hy is versot op skerpskertsery (stand-up comedy) en verklap dat Netflix baie goeie sulke programme het. “Ek beveel Sherlock en Succession aan, albei het baie seisoene en is bingeworthy.”

Die aktrise Antoinette Louw het pas met die rillerreeks American Horror Story begin. “Jessica Lange se spel is uitstekend. Moet dit net nie alleen in die donker kyk nie.”

Tim Theron, vervaardiger en skrywer, was baie verlig om agter te kom dat DStv se Box Office nou Frozen 2 het. ’n Bestiering vir enige ouer wat kinders moet besig hou. “Ons het dit dadelik gekyk en dit was sowaar ’n treffer. Alle ouers moet daar gaan loer. iTunes en Netflix het ook Pixar- en Disney-flieks. En DStv se Catch Up het talle kinderflieks.”

As hy wel eendag die TV vir homself het, gaan hy die nuutste seisoen van die Amerikaanse reeks Ozark op Netflix kyk.

Die aktrise Trix Vivier kyk tans HBO se SuccessionGlow en La casa de papel (Money Heist) op Netflix en die splinternuwe M-Net-drama Still Breathing. “Binge, binge, binge. Natuurlik kan jy ook Trackers op Showmax kyk.”

Die Binnelanders-ster Cindy Swanepoel kyk graag skelm The Bachelor as haar kêrel nie by is nie. “Dis my guilty pleasure. Ek kyk ook op die oomblik Netflix se Tiger King, dis absoluut mal ... veral as jy, soos ek, van karakterstudies hou.”

Verder beveel sy die Amazon-reeks Fleabag aan.

En wat kyk aktrise en sakevrou Leandie du Randt? “Ek het onlangs op Netflix die reeks The Affair begin kyk. Dis baie rof, maar ’n interessante reeks. Op Appel TV kyk ek die reekse See en Servant.”