Vir 21 dae gaan Suid-Afrikaners tot die vier mure van hul woonstel, huis of kothuis ingeperk word. Party van ons gaan omring wees deur kinders, grootouers en troeteldiere. Ander gaan dalk stoksielalleen moet verkeer. Hoe keer jy dat eensaamheid, frustrasie, angs en hartseer by jou kom intrek?

Judith Matloff, skrywer van die boek How to Drag a Body and Other Safety Tips You Hope to Never Need, het die volgende paar wenke in The New York Times gedeel:

- Behou ’n daaglikse roetine: Stort en trek aan asof jy buite in die samelewing gaan wees. Werk vir jou ’n 7-3-, 8-4- of 9-5-roetine uit en vul dit met werk, oefening, stokperdjies en meer. Moenie hiervan afwyk nie.

- Maak virtuele ete-afsprake met kollegas en vriende. 

- Bel jou geliefdes in die tyd, jy gaan hunker na kontak.

- Stimuleer jou brein: Moenie net TV kyk en reekse verorber nie. Bordspeletjies, boeke, legkaarte, brei, verf, skaak en hekel is net van die dinge wat jou geestelik gesond kan hou.


Wat as ek ’n ruimte deel met familielede, ’n huweliksmaat of woonstelmaat? Judith stel voor dat julle in hierdie tyd mekaar se ruimtes respekteer. Baken aparte af vir jul individuele werksverpligtinge en om te ontspan en bietjie ek-tyd te geniet. As dit prakties moontlik is, probeer om almal by dieselfde roetine in te val. Kommunikasie is baie belangrik, maar behou ook perspektief, soms gaan dit krap.

SARIE.com het met ’n paar bekendes gesels oor hoe hulle cabin fever oftewel kajuitkoors gaan keer.

Die aktrise Trix Vivier gaan ’n doen-lysie uitwerk van dinge waarby sy nooit uitkom nie. “Ek gaan uiteindelik ’n fotoboek ontwerp van my 2015-reis na New York. Ek gaan jogaklasse aanlyn aanpak. Ek gaan ’n lys maak van al die films en reekse wat ek nog wil kyk. Ek gaan die vriendinne by wie ek nooit uikom nie, eerste bel. Ek kook ook! En ek het lekker leesstof vir ’n baie opwindende projek.”

Trix wil ook elke oggend vir ’n oomblik stil word, behoorlik asemhaal en dink. “Ek gaan na alles rondom my kyk en onthou hoe bevoorreg ek is.”

Die akteur en skrywer Stiaan Smith beveel die app Headspace aan. “Ek gebruik dit self. Dis ’n app wat jou help om stil te raak vir ’n paar minute soggens en ook saans voor jy gaan slaap. Dis vir my baie cool! Om stil, kalm en rustig te raak is baie belangrik in hierdie tyd. Dit maak regtig ’n groot verskil.”

Die Fynskrif-regisseur Nina Swart gaan alleen in haar woonstel bly. “Ek is al vir ’n week in isolasie en dit het my bewus gemaak van alles wat ek nie kan doen nie. Ek kan nie tuinmaak nie, maar ek het plante op my balkon. Ek het nou navorsing gedoen oor hoe ek hulle gaan laat oorleef en floreer.”

Nina sê sy kan nie kook nie, maar het nou basiese vaardighede aangeleer om geregte te berei. “Om myself aan die lewe te kan hou met ’n pot en ’n pan. Ek kan wel skoonmaak en het dit nou baie intensief begin doen,” skerts sy. 

Vir eers gaan sy nie TV-reekse kyk nie. “Ek wil eerder nou boeke lees waarby ek nooit uitkom nie.”

Nina voel om kontak te hou met ander mense is baie belangrik. “Om in te check en net te hoor of almal okei is. Daar is mense in die industrie wat babas het en tans geen werk het nie. Die industrie het werklik tot ’n stilstand gekom.”

Sy bel, whatsapp en video-call veral mense wat sy weet sukkel met isolasie. “Ek probeer om elke dag ’n boodskap aan mense te stuur, al antwoord hulle nie, net sodat hulle weet iemand dink aan hulle.”

Die aktrise en sakevrou Leandie du Randt skryf toevallig in hierdie tyd aan ’n nuwe boek. “Ek is dankbaar vir die tyd om te skryf so tussendeur my aanlyn besighede. Die boek moet Augustus klaar wees.

“Mens kan ook in hierdie tyd werklik gaan dink wat vir jou belangrik is. Dit dwing jou om te doen wat jy nog altyd wou doen.” 

Sy maak ook seker dat sy gereeld haar goeie vriendin in Luxemberg video-call. “Sy is baie alleen. Hulle mag glad nie op straat wees nie en word streng beboet as hulle die reëls verbreek.”

Die akteur Edwin van der Walt onderhou sy groente-en-kruietuin, doen tuis oefeninge en skep aanlyn inhoud. “Ons maak ook vrek baie kos en probeer nuwe, gesonde resepte.”

Hy is nie al een nie. Die aktrise Antoinette Louw beplan ook om tyd in die kombuis deur te bring. “Ek kan glad nie kook nie, so ek gaan bietjie aan my kookvernuf werk. Maar ek kan vir jou goed beskuit bak.”

Verder bou sy legkaart en doen joga met die app Down Dog. “Ek jaag ook my hondjie, Lily, om die huis - en sy vir my!”

Die vervaardiger en akteur Tim Theron bieg hy het reeds cabin fever. Hy en vroulief Juanli deel die huis met hul twee kinders, Sophia en Migail. “Ons vat dit maar dag vir dag. Die meeste van ons energie gaan daarin om hulle rustig te kry, vermaak en besig te hou. Ons wil seker maak dat hierdie stres en onsekerheid hulle nie affekteer nie. Alles gaan nog relatief normaal aan,” skerts hy. “Ek het al vandag ’n ninja-geveg met my dogtertjie gehad, cowboys gespeel met my seuntjie en toe het ons ’n mini-atletiekbyeenkoms gehou op ons baie beperkte klein erfie.”

Hy en Juanli gee vir mekaar time out-kans. “Gewoonlik gaan stap een van ons, op ons eie om die blok. Net om ’n bietjie asem te skep weg van die kinders en van mekaar af. Al het ons mekaar so lief. Maar nou gaan ons dit nie kan doen nie. So ek dink ek gaan dalk net op die dak moet klim om asem te skep.”

Sy wenk vir ouers met kinders? “Bly net besig,” lag hy.

Die aktrise Christia Visser maak seker dat sy elke dag ’n bietjie son op haar vel kry. “Al is dit net die bietjie son op my stoep. Ek oefen ook elke dag. Ek probeer myself besig hou met klein huistakies en gebrruik hierdie tyd om na myself te kyk. Tap ’n borrelbad, sit musiek op en dans.”

Die akteur De Klerk Oelofse is bevoorreg om ’n klein tuin by sy woonstel te hê. “Ek kom nou uiteindelik by daardie los werkies uit wat 'n mens net bly uitstel. Dis al bewys dat tuinwerk angs en depressie teenwerk en ek dink in hierdie tyd het ’n mens dit meer as ooit nodig.” 

En dié wat nie ’n tuin het nie? “Ek stel voor jy lees daardie boeke wat jy vir Krismis gekry het. Ek gaan uiteindelik Willem Anker se Buys lees.”

En daarna wil hy Marlene van Niekerk se Agaat aanpak. “Daardie dik boek staar al jare intimiderend na my vanuit die boekrak.”

Die sepie-ster Cindy Swanepoel gaan haar huis behoorlik spring clean. “Die hoeke en kaste, daardie laaie wat vol penne en pleisters is. Goed wat ’n mens nooit tyd voor kry nie, gaan ek nou aanpak.”

En sy wil graag Zoeloe leer. “En dan gaan ek op my stoep oefen.”

Die sangeres Leah probeer in hierdie onseker tye perspektief behou. “Ons sit op ons stoep, ons braai en ons waardeer net die uitsig.”