Hy is rústig (niks kan hom aanjaag nie, selfs al herinner sy vrou hom hy mag maar 60 ry), hy’t gospelmusiek weer cool gemaak (aldus sanger Koos Kombuis), hy’s ’n begeesterde visserman (daar’s bewerings van 50 katrolle in sy motorhuis), amptelik toebroodjiekoning, ’n prediker wat die kerk laat volloop.

Jy kan Koos van der Merwe op verskillende maniere definieer. Maar SARIE-lesers ken hom veral vir dié eienskap wat sy vrou, Barbara, as sy sterkste beskryf: Sy gawe met woorde.

Barbara (jou vrou) vra hoe het die leraar met die eng idees wat sy 22 jaar gelede ontmoet het, se sienings só verander?
Ek is spyt ek het geluister na hulle wat my laat glo het Christene beeld hul geloof uit deur al die taboes – van verbode “sekulêre” musiek tot dans, hoe ’n prediker se hare en klere moet lyk, selfs hoe sondig grimering is. (Kan jy glo?)

Barbara, ek vra jou in SARIE om verskoning dat ons nie die vonkelwyn in die wittebroodsuite van die Sandton Sun in 1988 gedrink het nie – het ons maar! ’n Skynheilige, wettiese engheid stel altyd teleur. Ware lewe lê nie in hoe min ’n mens doen nie, maar hoe baie jy gee.

Wat is jou opinie oor die invloed van iemand soos Angus Buchan?
Ek ken hom nie en was nog nooit by sy dienste nie. Hy lyk na ’n opregte mens. Deur die eeue het groot figure opgestaan en duisende beïnvloed, nog altyd. Máár as my geloofsreis afhanklik raak daarvan om gereeld só gestimuleer te word, dan is ek versigtig.

Die geloofsreis gebeur primêr agter ’n toe deur. As jy afhanklik raak van glam byeenkomste, sonder dat jou geloof as individu groei, dan het jy ’n probleem. Om jouself net in massas te verloor . . . dis byna toksies.

Is daar ooit dae dat jy “af” voel?
Ja. Ek is ’n blymoedige mens, maar ek het ’n taamlik melancholiese persoonlikheid. Soms is daar tye dat ek voel ek is half in die skaduwee. Jy moet dit leer verstaan en gebruik. Daai donker kant kan vernietigend wees, behalwe as jy dit betekenis gee. Ék raak kreatief. Sodra ek voel ek moet nou nie te veel met mense of ligte goedjies doenig wees nie, sal ek doelbewus musiek maak of skryf.

Watter onvervulde droom wil jy nog uitleef?
Om ’n 51ste katrol te koop. En ’n kerk te bou wat soos musiek tot ’n mens spreek. En ’n boek te skryf wat mense se binneste laat reis na wêrelde waar die klanke van die ewigheid deur ’n baie dun membraan oor die siel spoel.

Hoe hou julle vakansie?
Ons hou van die natuur. Barbara se ouers is woonwa-mense. En vir my moet daar altyd water wees. Vir die visvang. Ek was al op vakansie sonder water, dit werk nie.

Vanwaar die visvang-fassinasie?
Kleintyd in Edenvale aan die Oos-Rand het ons altyd karpies in die dam gevang. Ek vang al my lewe lank vis, waar ek ook kom. Ek sukkel om woorde te kry om te sê wat met my gebeur as ek ’n vis uittrek en in die pan gooi. Dis in my bloed, soos musiek.

**Vir hom is spiritualiteit jou hele lewe, nie net een aspek daarvan nie. “Alles het te doen met wat jy glo. Wat jy eet, hoe jy werk, waar jy vakansie hou. God en glo en die Bybel en kerk is die onderbou van alles wat met jou gebeur. As ek net dít deur my rubrieke aan SARIE-lesers kan oordra, het ek geslaag in my doel.”

Lees die volledige onderhoud met Koos van der Merwe hier.