Akteur Dawid Minnaar was die afgelope tyd op die kassie as Binnelanders se dr. Franz Basson. Hy het vroeër vanjaar dié gewilde sepie verlaat. Ons vra 5 vrae aan dié gewilde akteur.

Wou jy altyd toneelspeel?

Ek was al van ’n vroeë ouderdom af aangetrokke tot wat ek doen, maar ek kon dit nie toe al ’n naam gee nie.

Jy’s ’n harde werker.

Ja, seker kompulsief. Ek’s totaal toegewy aan my werk, dis al wat ek het. Ek is nie ’n kunstenaar wat skilderye maak nie. Dis ek wat daar “hang” vir almal om te aanskou. Ek wil nie selfkoesterend klink nie, maar ’n akteur is soos ’n atleet. Hoe fikser jy is, hoe verder kan jy jou strek. Dis asof jou werk jou kies. Jy’t ’n verantwoordelikheid om dit

uitstekend te doen. Ek wil sover moontlik getrou bly daaraan, en daarom moet ek goed  soos Macbeth en Ubu doen.

Ek kan nou baie meer gee en dieper delf. Ek dink ek doen beter werk as tien jaar gelede.  Ongelukkig is dit baie moeilik in ’n land waar daar geen strukture is om die uitvoerende kunste te koester nie.

Het jy vyande?

Ek het min goeie vriende, maar sover ek weet, het ek nie vyande nie. Eintlik is die meeste van my vriende oudkollegas in die Kaap.

Kan jy moeilik wees?

In ’n werksituasie kan ek gefrustreerd raak, meestal met myself. Plofbaar ook. Mense skrik soms hul melk weg as hulle nie die konteks verstaan nie, maar later lag hulle vir my. Die waansin in my is geneties – dit loop deur al die Minnaar-mans. Ek raak moeilik wanneer dinge nie vlot verloop nie. Ek haat dit as mense onvoorbereid is, as ek die idee kry hulle is nie regtig betrokke of toegewyd nie. Dis nie ’n stokperdjie nie, toneelspel is ’n ambag wat harde werk en toewyding verg. Ek het nie één so ’n moment gehad tydens Macbeth nie. Dit was so gevul met vreugde en lig, ons het baie gelag. Soms was ek ontstig met myself wanneer ek iets nie kon regkry nie, dan het almal saam met my gelag.

Jy moet jou werk ernstig opneem, nie jouself nie.

Oorval mense jou as sepiester?

Mense val my selde lastig. Hulle kom dikwels met my ’n stukkie gesels, en dit pla my nie,  is inderdaad meestal heel aangenaam.