Jurie van Zyl, een van die deelnemers aan die gewilde werklikheidsreeks Boer soek 'n vrou 1 op M-Net/kykNET, het verlede Vrydagaand sy buiging as akteur in die M-Net-sepie Binnelanders gemaak. Hy speel tot eerskomende Vrydag daarin. Die storielyn: Jurie beland in die hospitaal ná 'n quad bike-ongeluk en al die verpleegsters, behalwe Pippa, maak vir hom ogies. Marguerite van Wyk het met dié 29-jarige boer van De Aar gesels oor Johannesburg, toneelspel en 'n moontlike musiekloopbaan . . .

Wat soek 'n boer van De Aar in Binnelanders?
Hulle het my gebel en gevra of ek belangstel en ek het gedink: If not, why not? Hulle het my verblyf en diesel betaal en my ook 'n paar rand gegee.

Is toneelspel maklik?
Dis oukei. Voor die tyd het hulle gesê ek moet my woorde ken, dan sal die akteurs my meer respekteer. Ek het twee weke voor die tyd die eerste deel van die woorde opgeswot deur die ander akteurs se lyne sag te lees en mý woorde hardop te lees. In Johannesburg het ek 'n vriend gekry en die woorde 'n bietjie saam met hom deurgegaan.

Was al die aandag van die "verpleegsters" lekker?
Jy vat dit maar met 'n knippie sout, want dis mos net hul werk.

Is jy ná Boer soek 'n vrou en Binnelanders 'n celeb op De Aar?

Glad nie. Ek is dieselfde ek. Almal ken my. Niemand karring aan my nie. So 'n paar tannies van ander plekke het my al voorgekeer en gevra of hulle my kan afneem en ek is maar 'n vriendelike mens. So ek wil niemand aanstoot gee nie.

En is die meisies nie nou almal mál oor jou nie? Hét jy 'n meisie?

Nee, ek sê niks daaroor nie.

Wat het toneelspel jou geleer oor jouself?
Dat ek enigiets kan doen as ek moet. Ek doen eerder iets van alles en verbaas myself as dat ek nié iets probeer nie.

Hoe verskil jou werk op die plaas van die Binnelanders-stel?

Soos dag en nag. Ons boer met skaap, bees, boerbok en lusern.

Was dit lekker om al die sterre te ontmoet?

Ja, almal was baie vriendelik en professioneel. Ek kon sien hulle geniet hul werk. Dis baie meer gedissiplineerd en gestruktureerd as Boer soek 'n vrou. Op laasgenoemde kon jy eintlik doen wat jy wou. By Binnelanders was als op sy plek en dit moet rég gedoen word. Dit was baie interessant om te sien hoe die kameramanne werk en om te sien hoe dit ná die tyd geredigeer word. Dit was heerlik om die akteur Tobie Cronjé te ontmoet - iemand wat ek al van kleins af op TV sien. 'n Mens wonder dikwels hoe die akteurs regtig is. En hulle was regtig vriendelik.

Hou jy van Johannesburg?
Glad nie. En my laaste dag daar het 'n clown in my bakkie vasgery. Pretoria sal ek enige dag vat. Dis oper. Maar in Johannesburg is almal so op 'n hoop en als lyk dieselfde. Ek is baie dankbaar ek woon op De Aar.

Sal jy weer wil toneel speel?
Ek weet nie of ek goed genoeg is nie, maar as ek die kans kry, beslis.

En wat van sing, miskien 'n CD?
O, néé, ek sing nie eens in die kerk nie. Ek is bang ek maak die ou langs my vals. Ek mime.