Aktrise Simoné Nortmann het by vanjaar se Royalty Soapie-toekennings die toekenning vir beste nuweling gewen. Maar min mense weet sy moes lank stry teen depressie en is eers onlangs op 23 met haar pa  versoen…

Geniet jy die rol van Nadia?

Ek geniet elke oomblik, want ek verstaan waar sy vandaan kom: ons het albei daddy issues. Dit ontstel my as mense haar slegsê. Dis belangrik dat kykers weet Simoné is nie daai stoute kind van die Laan nie. Almal groet my nou nog só op straat. Ôg! In die begin was dit so erg dat ek nie meer in die openbaar wou verskyn nie. Mense sou sommer op my gil. Sê ek’s ’n slegte voorbeeld en hulle kan nie glo ek praat so met my pa nie. Ek het nie geweet of ek moet lag of huil nie! Dinge is darem nou beter. Maar ek kan verstaan hoekom mense so reageer. 7de Laan-kykers voel deel van die storie. Dis net vir my ’n uitdaging om my identiteit apart van  Nadia te hou.

Fanie kies vir Simoné ’n vintage uitrusting

Nadia het ’n komplekse verhouding met haar pa. Jy het ook …

My ouers is geskei toe ek vier was en ek onthou nie veel van my pa uit daardie tyd nie. My ma, Tinkie, het my grootgemaak en ek het my pa, Hannes, baie min gesien. Later het ek uitgevind hulle het my tydens haar  swangerskap weens omstandighede twee keer probeer aborteer. Dit het my geruk. Dis dalk hoekom ek van kleins af enige terugslae en teleurstellings as verwerping ervaar het. Depressie is later by my gediagnoseer. Omdat ek by my ma grootgeword het, het ek grootliks my pa geblameer vir my gevoelens van verwerping. Hy was daar vir my, net nie op die manier waarna ek gesoek het nie. Op 23 het ek besef ek soek my pappa in my lewe. Ek moes vergewe. Ek het vir hom ’n e-pos geskryf en alles wat my nog altyd gepla het, uitgespel. Gesê: dis nou verby. Vergewe en vergete. Tog moes die versoening van albei kante kom. Dit was bitter moeilik. Ons het alles uitgepraat. Tóé eers het ek besef ons liefdestale (die manier waarop ons liefde uitdruk) verskil en dís waar die wankommunikasie ontstaan het. Toe eers kon ek jammer sê dat ek dinge nooit uit sy perspektief gesien het nie. Nou kommunikeer ons gereeld. Hy woon nog in Kaapstad. Ons is albei eindelik bevry. Dis ’n wonderlike gevoel.

Simoné by haar pa, Hannes FOTO: Twitter Simoné by haar pa, Hannes
FOTO: Twitter

Hoe het jy die gevoel van verwerping oorkom?

Die oomblik toe ek vergewe en aanvaar wat in die verlede gebeur het, en besef waar al my issues vandaan kom, is ek bevry. Ek voel selfs dat my depressie beter is. Ek moes leer om my emosies te beheer. Ek ken myself beter en ek besef my identiteit lê nie in my verlede nie. Wat belangrik is, is dat albei my ouers my liefhet. As ek verwerp voel of kritiek moet hanteer, haal ek die goeie daaruit.

Simoné en ander Afrikaanse sterre wen sepie-toekennings

Kry jy nog donker dae?

Depressie verdwyn nie oornag nie. Terapie en medikasie kan help, maar jy moet self die werk doen. As enkelkind het ek ’n leemte gevoel. Partymaal ’n oorweldigende hartseer wat ek nie verstaan het nie. Ek was altyd emosioneel. Ek het die kleinste vorm van verwerping intens beleef. Dit sou my depressief maak. Op skool het ek presteer in akademie en sport – dit was my toevlug. Maar op universiteit was dit weg. In my tweede jaar het ek byna my lus om te lewe verloor. Myself in my koshuiskamer toegesluit. Depressie steel jou geluk. Jou hoop. Jy voel leeg. Ek het besef iets is ernstig fout. Toe ek met depressie gediagnoseer is, was dit baie moeilik om daarmee vrede te maak. Ek streef na perfeksie. En hier moes ek my swakhede konfronteer. Vandag is ek dankbaar dat ek op ’n plek in my lewe is waar ek net ek kan wees. Dit gaan baie beter, maar ek kry steeds donker tye dat ek voel ek het nie krag om uit die bed op te staan of met iemand te praat nie. Ek drink nie meer antidepressante nie. Ek weet hoe om dit beter te hanteer. Soms moet jy jouself toelaat om bietjie weg te kruip. Solank jy net nie in die donker gat vassit nie. Verskeie goed werk vir verskeie mense. Ek vind toevlug in my geloof.

Glo jy weer in jouself?

Ek het nog altyd daarmee gesukkel. Die onsekerheid oor of ek dit as aktrise sou maak was so erg dat ek teologie en onderwys opgeskop het voor ek met my dramagraad deurgedruk het. Toe ek die rol as die rebelse tiener  Nadia kry, moes ek myself knyp. In die begin was dit moeilik. Ek is so hard op myself en so gedrewe om te verbeter dat die dialoogafrigter in ’n stadium vir my gesê het ek moet rustiger raak. Ophou om heeltyd introspeksie te doen. Leer om myself vir my foute te vergewe. Ek slyp elke dag my vaardighede op stel. Dis ’n ongelooflike leerskool. My vrees voor die kamera is ook beter. 7de Laan was deel van my genesing. Dit het my stabiliteit gegee en selfdissipline geleer. My herinner dat ek na my gesondheid moet kyk. Ek het besef ek het heeltyd geveg teen hierdie geraamtes in my kas. Ek het ’n lysie gehad oor hoe ek ’n beter mens moet word, en daardie strewe het my moeg gemaak en minderwaardig laat voel. Ek moes leer om myself lief te hê. Nou weet ek ek mag maar my sterkpunte erken. Toneelspel is die een ding wat ek goed kan doen.

Jy het ook ’n nuwe liefde. Vertel meer …

Hy is ’n hidrogeoloog. Ek het hom by die kerk ontmoet en hy’t my voete onder my uitgeslaan! Hy’s ’n romantikus wat met elke date blomme bring, vir my die deur oopmaak, verras met tee en medisyne wanneer ek siek is … Hy het my hart gewen met sy onselfsugtige liefde. Ek is ’n baie gelukkige meisie. Om te dink ek was so lank bang vir ’n verhouding omdat ek nie dieselfde foute as my ouers wou maak nie. Intussen het ek besef daar is nie iets soos ’n perfekte verhouding nie. Dis twee onvolmaakte mense wat mekaar volmaak kan liefhê. Ek wil graag eendag trou en kinders hê. Ek het ’n passie vir weeskinders, en ek weet ek gaan eendag kinders aanneem – sommer vier!

Ek en Ian. My rok is gemaak deur Kyna Consili FOTO: Simoné Nortmann Simoné en haar kêrel, Ian, by die Royalty Soapie Awards FOTO: Simoné Nortmann

Lees Simoné se dagboek van die Royalty Soapie Awards

Wat lê jou na aan die hart?

Ek reik gereeld uit na kinderhuise en doen daar vrywilligerwerk. Onlangs het ek in Indië kinderhuise besoek. Ek lewer gereeld motiveringspraatjies vir jongmense by skole en kerke. Dit sal vir my lekker wees om veral  tienermeisies te kan help. Ek is al deur soveel dinge waarmee baie tienermeisies hulle kan vereenselwig en waaruit hulle kan leer. My praatjies gaan nie net oor depressie nie, ek wil hulle ook meer oor eetsteurnisse vertel. Ek was ’n emosionele eter. My gewig het vir jare wipplank gery. Soms sou ek ’n streng dieet volg en net springmielies eet en proteïenskommels drink. Ander kere my aan alles vergryp. Nou dra ek die gevolge daarvan, want my metabolisme is deurmekaar. Daarom probeer ek gesond eet.

Wat is jou raad aan tieners?

Jy kan die lewe se uitdagings oorkom sonder om jouself af te breek. As dinge oorweldigend voel, reik uit, al is dit moeilik. Vertel jou ouers of ’n vertroueling wat jou pla. Jy kry nuwe insig wanneer jy dinge uitpraat.  Erkenning is ’n groot stap. Dis oukei om hulp te vra. Jy gaan régtig oukei wees.

Watter raad het jy vir ouers met moeilike tieners?

Jy het nie misluk met jou kind se opvoeding nie. My ma het baie gewonder of sy iets verkeerd gedoen het. Sy het haarself verwyt, sy was bang om my te ontstel en het nie geweet hoe om my uitbarstings te hanteer nie. Reik uit na jou kind. Daar bestaan nie ’n kitsoplossing nie. Raas gaan nie in alle gevalle help nie, want jy kan nie iets soos depressie weg-dissiplineer nie. Ondersteuning, liefde en meegevoel is wat jou kind eerder nodig het.

Bouwer Bosch by 7de Laan se Simoné Nortman FOTO: Phyllis Green Simoné en Bouwer Bosch by die première van Pad na jou hart
FOTO: Phyllis Green

Jou grootste lewensles?

Vergifnis maak jou vry. Let go. Wrokke maak jou bitter. Kyk na ’n situasie deur die ander mens se oë. Moenie aan die verlede vasklou nie. Dit sou makliker wees om te dink my pa of die wêreld skuld my iets. Daardie gevoel dat die lewe my ’n onreg aangedoen het, het my vasgedruk. Dit was nie maklik nie, maar ek moes kies om almal vry te spreek en te aanvaar dat dinge sal uitwerk. Nou kyk ek nie meer terug uit verwyt of seer nie. Ek sien die mooi raak. Ek besef daar is foute gemaak, maar ons het dit reggemaak en van voor begin. Dis asof jy jou ou Mazda inruil met die wete jy kry ’n Ferrari terug. Vandag ry ek my Ferrari. En sy naam is bevryding.

Wat lê vir jou voor?

Ek sien uit na die eerste Royalty Soapie-toekennings, en voel so geëerd oor my benoeming as beste nuweling. Ek wil nog reis en onder meer Israel sien en by die New York-filmakademie gaan swot. Dan droom ek ook van ’n fliekrol en is baie opgewonde oor die plaaslike fliekbedryf. Ek sal graag ná ’n jaar wil terugkyk en kan sê ek het gegroei as aktrise én mens.

Simoné se gunstelinge

  • Kos: Enige Indiese kos, springmielies, vrugte, roomys. Ek hou van kos!
  • Fliek: Chicago
  • Aktrise: Meryl Streep
  • Vakansieplek: Kleinmond
  • Item in jou handsak: Kougom
  • Klerewinkel: Enige tweedehandsklerewinkel