“Die naam het nie ’n oorsprong nie,” verklap die 7de Laan-aktrise Carina Nel. Sy het nog altyd gedroom om twee kinders te hê. “Ons wou nie familiename gebruik nie, maar ons wil tog ietsie van ons in hul name sit.”

Toe sy en manlief, Deon Nagel, uitvind dis ’n dogtertjie het hulle begin rondspeel met name wat met die letter ‘C’ en ‘D’ begin. “Dit was eintlik ’n baie lang proses,” lag Carina. “Deon het baie tegnies oor die naam gedink ... Is dit te lank? Is dit te kort? Kan ’n mens dit kwaai sê? Kan ’n mens dit vriendelik sê? Watter afkortings gaan mense daarvoor kry?”

Uiteindelik het hulle besluit op Carlemi, ’n unieke naam vir die dogtertjie wat reeds diep in hul harte kom kruip het. 

FOTO JACO PHOTOGRAPHY

Carina kan nie wag om haar eersteling voor haar oë te sien grootword nie. En watter les sal sy graag vir haar dogtertjie wil leer, wat sy wens sy as jong meisie kon geleer het?

“Ek moet dit nog gereeld vir myself sê ... maar om nie te bekommer wat ander mense van jou dink nie. Of om ander mense die heeltyd te probeer tevrede te stel of gelukkig te hou. Om nie te worry om perfek, suksesvol en die beste te wees nie ... Dis nie waaroor die lewe gaan nie. Die lewe gaan oor soveel meer, oor die tye saam met jou geliefdes, om herinneringe saam met hulle te bou.”

Sy self sukkel nog daarmee, erken Carina. “Ek wil steeds my beste gee, ek is steeds gefokus op my loopbaan.” Maar nou is sy sagter op haarself.

FOTO JACO PHOTOGRAPHY

Carina is dankbaar vir iemand soos Deon. “Ag, hy is die wonderlikste man. Hoe hy uithou met my langure [op stel] weet ek self nie? Hy sorg dat daar altyd kos is, hy help met huis skoonmaak ... hy met elke klein dingetjie. Hy het voete en rug gevryf, hy het sjokolade gekoop. Hy het letterlik my elke dag net op sy hande gedra. Hy het my goed laat voel, hy het my mooi laat voel en gerus gestel.”

Sy kan nie wag om te sien hoe Deon sy rol as pa gaan inneem nie. “Hy gaan ’n wonderlike pa was. Hy is so opgewonde oor Carlemi, hy vryf altyd my magie en praat met haar. Dis so spesiaal om die kant van hom ook te sien. 

Weens die inperking kon Carina nie ’n babatee hou om die koms van klein Carlemi te vier nie. Maar gelukkig is haar babakamer klaar - wat vir lank op ys gehou was. “Sy het darem nou ’n bedjie om in te slaap,” lag sy.

Met die instelling van vlak 3 is die hospitaal-reëlings steeds deurmekaar. Carina verklap dat Deon die geboorte mag bywoon en 2 ure ná die geboorte. “Daarna kan hy ons eers na drie dae kom optel. Ek sou graag vir Deon daar wou gehad het en om die vreugde met familie te deel. Maar ons het vrede gemaak, ons sien die positiewe in die situasie raak.”

FOTO JACO PHOTOGRAPHY

Carina het soveel om voor dankbaar te wees. “Ons het ’n dak oor ons kop, kos, ’n gesonde baba. Dit kon baie erger gewees het.” Maar as alles verby is gaan Carina ’n punt maak om mense te sien. “Om in ’n koffiewinkel te sit saam met my ma. Om my babatjie vir mense te kan wys. En om die klein goedjies te kan doen ... die vryheid. Dít gaan jy waardeer.”

In 7de Laan het kykers vir Carina in twee uiteenlopende rolle sien speel: Alexa, die dokter, en Amanda, die rabadoe. Laasgenoemde het onlangs met ’n bababoep in die Laan opgedaag. 

“Ja, Amanda,” lag sy. “Kyk, ek is verskriklik lief om daai rol te vertolk. Dis so anderste van Alexa en myself. Maar dis ’n rol met baie diepte. Sy herinner my altyd dat elke persoon sy eie storie, agtergrond en probleme het. Amanda is deur so baie, haar aksies is as gevolg daarvan ... Maar maak nie saak waardeer jy gaan nie, jy kan altyd die beter mens wees.”

Amanda se storielyne het haar ook geleer om nie onmiddellik mense te oordeel nie. “Hoekom het hulle die keuses in hul lewe gemaak? Daar is dalk rede daarvoor.”

FOTO JACO PHOTOGRAPHY