7de Laan se Clara (Angelique Gerber) is tans betrokke by Celebs against child abuse, die Nelson Mandela-fonds 46664, Pathways vir gestremde kinders en saans sit sy nog voor die boeke ook vir haar honneursgraad in Sielkunde deur UNISA. Sy't tyd afgeknyp om te gesels oor geloof, 'n dag in haar lewe en 3 dinge wat elke meisie moet hê.

Almal is mal oor jou karakter, Clara, in 7de Laan. Hoekom so?
Mense hou van iemand wat anders is as die gewone. En Clara is presies dit, sy is so buitensporig anders, 'n mens kan nie anders as om haar raak te sien nie!

Alhoewel jou pa Italiaans is, is jy tog eintlik eg Afrikaans. Wat sal jy sê maak Suid-Afrikaanse meisies so besonders teenoor oorsese meisies?
Ek dink ons meisies is verseker mooier, en ek glo ons het nog respek vir onsself en laat die man die jagter wees! Ons is ook geseënd om in 'n land te woon waar waardes en familie nog belangrik is.

Jy staan met jou voete vas op die aarde, is gereeld betrokke by liefdadigheidsgeleenthede en -organisasies en is passievol oor mense. Het jou geloof iets daarmee te make?

Verseker! Jesus het my so geseën, ek wil met my hele wese teruggee en vir ander mense van die liefde en vrede gee wat ek ontvang het toe ek Jesus aangeneem het as my redder. My talent is acting, maar my doel is om God se mense aan te raak.

Wat beur jou op in die lewe?
My mamma, my kêrel en my kerk.

Vertel ons hoe lyk 'n dag in die lewe van Angelique Gerber?

5:30 vm is ek in die gym, dan 7:15 vm is ek by die werk vir ontbyt en 7:30 vm begin ons tonele vir die dag repeteer. Ons het ook dialoog-afrigting deur die dag asook hare en grimering 2 ure voor jou toneel. Daarna het ek gewoonlik 'n funksie aan, of ek en my vriendinne geniet soesji, of ek gaan huis toe vir 'n rustige aand met my sielkunde-boeke.

Wat is jou inspirasie?
Mense wat min het, maar tog nog lag en ware joy het!

Watter 3 items moet elke meisie hê?
Goeie gesigroom, lip gloss en 'n GHD!

Wat is jou boodskap aan vroue?

Net die Here kan daai leemte in jou hart vul, geen verhouding, werk of selfs sukses kan dit doen nie. Wees goed vir jou lyf, oefen, drink water, eet vrugte en slaap! Omring jou met positiewe mense en ware vriendinne. Wees lief vir jou ma en waardeer haar, niemand gaan ooit weer so lief wees vir jou soos sy nie. En jy is die mooiste van al God se skeppings.

Angelique en haar kêrel, Ben-G van Niekerk

Angelique en Ben-G Angelique en Ben-G
Ben-G