Hendrik Cronjé, beter bekend as Lukas in die SABC2-sepie 7de Laan, gesels met Marguerite van Wyk oor die grootste uitdagings wat dié sepie hom al gebied het, sy benoudste oomblikke op stel en of 7de Laan die Suid-Afrikaanse gemeenskap taamlik lewensgetrou weerspieël . . . As jong akteur – hoe kry 'n mens die geleentheid om jou toneelspel-vaardighede op die stel van 7de Laan te slyp? Dis 'n baie waardevolle leerskool vir enige akteur. Jy kry die kans om met van die mees gesoute akteurs in die bedryf saam te werk. Ek probeer elke dag soveel as moontlik dophou en inneem wat op die stel gebeur. Die dissipline en professionaliteit wat hier toegepas word, is 'n goeie grondslag vir my akteursloopbaan. Wat is die grootste uitdagings van 'n sepie? Om in 'n kort tydperk goeie spel te lewer. "Multi-cam" is ook iets om aan gewoond te raak. Die tegniese aspekte is 'n groter uitdaging as wat die meeste mense besef. Wat was vir jou die snaaksste oomblik op stel? Daar was baie. Hennie Jacobs, wat Diederik speel, kry my altyd aan die lag. Ek probeer soms sy blik aspris vermy, want ek is bang ek kry een van daardie nimmereindigende lagbuie – waar jy nie mag lag nie, maar jy ook nie kan ophou nie . . . En jou benoudste oomblik? Daar was eendag 'n toneel in Theron en Terreblanche se winkel waar ek 'n reël moes praat. Dit was 'n regte tongknoper en ek het elke keer oor my woorde gestruikel. Gelukkig het ek dit een keer vloeiend en reg gesê. Dit was regtig 'n moeilike kombinasie van woorde. Dink jy dié sepie weerspieël die Suid-Afrikaanse gemeenskap betreklik lewensgetrou? Ja, ek dink dit is van toepassing op die meeste Suid-Afrikaners. Ek dink dis hoekom die program so suksesvol is – die meeste mense kan daarmee identifiseer. Het 7de Laan jou lewe verander? Ek het altyd daarvan gedroom om akteur te wees. Maar ek het nie altyd geglo dit gaan gebeur nie. Toe 7de Laan oor my pad kom, was ek baie dankbaar vir die kans. Ek is al byna drie jaar deel van dié sepie en ek is elke dag nog opgewonde om akteur te wees. * Kry jou Mei-uitgawe van SARIE met die allermooiste foto's van nog 7de Laan-sterre. Vanaf Maandag 12 April te kry.