Wat het dié sepie vir jou loopbaan beteken? Dit gee my die geleentheid om alles wat ek in die teater en met destydse oorklanking geleer het, daagliks gedurende opnames toe te pas. Die reeks laat my beslis nie verroes nie, veral omdat my karakter as Matrone wissel tussen komedie en soms die meer dramatiese elemente in my vertolking. Hoe het 7de Laan jou lewe verryk? Ek kan teenoor baie goeie, professionele akteurs speel, en dit het `n basis vir my geskep dat ek baie kon reis die afgelope paar jaar. Noem `n paar hoogtepunte . . . Persoonlike hoogtepunte was my reise na die Midde-Ooste. Dis `n baie belangrike deel van die wêreld wat baie in die nuus is en waarvan die meeste mense in die Weste, veral in Suid-Afrika, net `n verwarde, vae en stereotipies beeld het. Wat so lekker is van lande soos Sirië, Libanon, Jordanië en Iran, is dat hul geskiedkundige plekke soos Palmyra, Petra, Boalbek en Persepolis nie stof getrap word deur `kyk daar’ toeriste nie. Die negatiewe aspek daar is dat dié lande, veral ná 9/11, nie `n groot inkomste kry uit toerisme nie. Nie ál die Midde-Oosterse lande het immers olie nie. Professioneel was een hoogtepunt vir my die storielyne tussen Matrone en haar suster Esther (wyle Trudie Taljaard). Wat dink jy beteken 7de Laan in die Afrikaanse gemeenskap? Dit verskaf nie net plesier nie, maar is gemik op ál die gemeenskappe van die land. Mense is baie dankbaar dat hulle vermaak word deur dié sepie wat al deel van hul daaglikse lewe geword het soos slaap, eet, werk en kuier.