Op skool het die hunk van Die Laan, Markus Haywood, nooit drama gedoen nie. Maar toe hy eers sy toneeldroom begin najaag, was daar geen keer nie. Dis waar hy ook liefde gevind het.

FOTO Phyllis Green

Hoe het jy ’n akteur geword? Jy was ’n elektrisiën voor jy by 7de Laan aangesluit het.

Ek het nie drama op skool [in Rustenburg] gedoen nie. Ná matriek het ek as leerling-elektrisiën gewerk. Toe word die maatskappy waar ek my vakleerlingskap gedoen het, gelikwideer. Almal is afgedank. Ek wou my droom om akteur te word najaag, al het ek glad nie geweet hoe nie. Eers was ek by ’n modelagentskap, maar het nie baie werk gekry nie . . . Eintlik was ek nie ’n baie goeie model nie! Later het ek ’n oudisie afgelê vir ’n jeugteaterproduksie van Aladdin en toe kry ek die rol van Genie. Ek het gesing en gedans . . . dit was net amazing. Ná ’n paar rolle in studente se kortfilms het ek ’n agent gekry. Hy het my laat weet 7de Laan hou groot oudisies vir die Spies-broers, Willem en Louis. So het ek in 2015 deel van dié sepie se span geraak.

Hoe verskil jy en jou karakter Willem Spies?

Willem is meer van ’n joller as wat ek nog ooit was. Hy het ook al die meeste van die mense na aan hom verloor. Ek is gelukkig nog nie deur sulke trauma nie. Hy kry ook nog altyd alles in die lewe sonder veel inspanning. Ek moes hard werk vir wat ek wil hê.

Jy en Kristen Raath (Amorey in 7de Laan) is regtig ’n paartjie. Het julle op stel ontmoet?

Ja, ons het vriende geraak en toe begin uitgaan. Aanvanklik het sy daarteen gestry, nogal soos in die storielyn. Ek was in die dumps daaroor. Gelukkig was ek charming genoeg om haar hart te wen . . . Eintlik was ek net lucky.

Hoe behou julle ’n balans tussen die werklike en fiktiewe lewe?

Om in dieselfde bedryf te wees is klaar moeilik. Om boonop 'n paartjie te speel is nog moeiliker. Dis belangrik om die twee wêrelde van mekaar te skei. As jy by die werk is, is jy by die werk. En as jy by die huis is, is jy by die huis. Ons het al gesprekke daaroor gehad. Die oomblik as jy die wêrelde begin meng, kan dit ingewikkeld raak. Maar saans vat jy tog jou werk huis toe. Dis ’n uitdaging en ons bly bewus daarvan.

Wat weet mense nie van jou nie?

Ek speel so ’n bietjie kitaar en sing en het saam met vriende ’n band, Solid Sway. Maar ons het nog nie baie opgetree nie, ons speel sommer vir die lekker. Verder hou ek van draaiboeke skryf en het al een vir ’n kortfilm gedoen. Vervaardiging en regie is ook belangstellings. Daar is eintlik soveel wat ek wíl doen, maar ons sal sien wanneer alles gebeur.

In Hollywood speel groot akteurs deesdae in TV-reekse. Is jy opgewonde oor TV in SA?

Daar is beslis dinge aan die gebeur en daaroor is ek baie opgewonde. Veral die akteur in my. Ek is lief vir die Suid- Afrikaanse film- en vermaakbedryf. Dinge begin lewendiger raak met jonger mense wat leiding neem en betrokke raak.

Sal jy eendag in Hollywood wil werk?

Ek dink elke akteur wil. Aan die ander kant is ek so opgewonde oor wat hier gebeur, ek wil nie uitmis nie. Ek sal gelukkig wees om net hier my stempel af te druk. Jis, die akteurs, skrywers, regisseurs . . . almal in ons land is so talentvol en passievol.

Gestel jy kon teenoor enige akteur, plaaslik of internasionaal, speel. Wie sou dit wees?

O, dis maklik! Leonardo DiCaprio is my gunsteling-akteur, hy kan net enige rol vertolk. Hy kies sy projekte slim en hy kies nie swak draaiboeke nie. As regisseur sou ek saam met Quentin Tarantino wou werk. Ek is mal oor sy manier van stories vertel – sy regie en skryfstyl is besonders.

En as jy enige rol kon vertolk?

Om een of ander rede het ek nog altyd gedink as daar ’n fliek oor die Hollywood-akteur Joaquin Phoenix gemaak word, sal ek hom wil speel. Ons lyk nogal na mekaar . . . Sou hulle eendag ’n fliek wil maak, ek is beskikbaar en nie te duur nie.

Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaans?

Ek het ’n passie vir die taal, dis vir my een van die koelste in die wêreld. Ek is ook nie gestres oor die toekoms van Afrikaans nie. Selfs mense wat dit nie kan praat nie, is gefassineer daardeur.

7de Laan se vliegramp-storielyn het kykers se nekhare laat rys. Wat was die grootste uitdaging?

Ons het langer ure gewerk en dit was ysig koud. Maar die ergste was toe Carina Nel [Alexa Welman in die storie] haar arm regtig gebreek het. Ek het twee meter van haar gestaan toe sy val. Sy het gehuil en geskree en baie pyn gehad. Dit het my so hulpeloos laat voel terwyl ek haar kar toe gehelp het.

Watter land wil jy die graagste besoek?

Italië, vir sy argitektuur en geskiedenis. Ek het al van kleins af ’n obsessie met die Romeinse Ryk.