Sy is meer bekommerd oor hoe dit met haar vriende gaan, as oor haar verpligtinge. En sy kan soms lekker skinder. Marguerite van Wyk het met Caroline gesels oor haar rol in dié sepie wat onlangs sy tiende verjaarsdag gevier het. Dink jy 7de Laan het die potensiaal om nóg tien jaar op die lug te wees? Beslis! Die hele gesin kan dit kyk en geniet. Dit laat mense lekker lag en vergeet van die dag se gebeure en stres. Dit word deur alle rasse geniet. Wat geniet jy van die vertolking van die karakter Zinzi? Sy herinner my aan sommige mense wat ek ken. Veral haar nuuskierigheid en geesdrif. Alhoewel mense sê sy is `n skinderbek, kan hulle nie wag om te hoor wat sy als vertel nie. Veral nie hoe sy oordryf en oorvertel wat sy als hoor en hoe sy haar ore uitleen en mense afluister nie. Ek hou ook daarvan dat sy nooit haar les leer nie. Ek geniet haar, maar ons persoonlikhede verskil baie. Is dit uitdagend om in `n sepie te speel? Ja, nogal! Elke dag het jy `n teks met nuwe woorde om daardie dag te leer. En dit verskil van verhoogwerk, waar jy `n maand voor die tyd jou woorde kry om te leer. Dán kry jy die geleentheid om op die verhoog op te tree en dan is jou werk klaar. Maar met `n sepie is jou werk elke dag anders en nuut en dit verg baie konsentrasie. Sommige kykers verwag ook soms dat jy sal optree soos jou karakter in die werklike lewe en dis is nie altyd maklik nie! Noem `n paar hoogtepunte in jou loopbaan by 7de Laan sedert jy in 2004 daarin begin optree het. My karakter was veronderstel om `n `temp’ te wees vir slegs twee weke. Ek het in daardie stadium in `n teaterproduksie gespeel, maar besluit om dit op te gee, want ek wou eerder in die sepie speel. My hoogtepunt was om deel te word van die sepie-span, want al die akteurs saam met wie ek drama gestudeer het, het ook gedroom om in `n sepie te speel. Watter oomblik in 7de Laan, tot op hede, sal jy nooit vergeet nie? Die boksgeveg tussen die karakters Bart en Marko. Dit was my eerste groot `gig’ toe ons meisies rasieleiers was vir die ouens. Ook met die karakters Katinka en Francois se troue, toe ek `n hele skinkbord vol fancy pynappel skemerkelkies laat val het voor die finale aftel toe hulle sê ``AKSIE“!