Ná al die jare bly dit een van die gewildste sepies in Suid-Afrika: 7de Laan. Die kykergetalle en media-aandag bewys dit immers.

Die aktrise Carina Nel, in die rol van dr. Alexa Welman, is op die oomblik een van die SABC2-sepie se grootste sterre. Veral haar karakter se liefdesverhouding met dr. Fikane Chauke (Nicholas Nkuna) was die laaste tyd in die nuus. Ja, die Laan en sy inwoners kan nie geïgnoreer word nie.

Ons het by Carina gaan inloer. 

FOTO Leana Clunies-Ross

Wat gaan volgende met Alexa gebeur?

Ek is op die oomblik besig met ’n groot storielyn. Haar en Fikani se verhouding gaan goed aan, maar daar gaan later ’n paar dinge met Alexa gebeur.

En hoe gaan dit met jou?

Ek en my man, Deon Nagel [hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester] het die laaste ruk so baie gereis. In Desember was ons vir drie weke in Amerika, eers New York toe en toe na Washington. Ons het ook Los Angeles besoek en toe met die weskus opgery om in San Francisco op te eindig. Voor dit het ons Deon se 30ste verjaardag op Mauritius gevier en net voor dít het ek saam met my ma die hele Nederland platgetoer. Al ons tyd en geld is nou vir eers op.

FOTO Instagram / Carina Nel

Lê iets opwindends in 2019 vir jou voor?

O ja, wat ek kan noem is dat ek op ’n gewigsverlies-reis was.

Jy was nie oorgewig nie.

Ek het dit ook nie gevoel nie ... Ek wou net goed voel en lekker in my klere sit. Ek het omtrent 12 kg afgeskud. Nou loop ek weer met meer selfvertroue rond.

Wat het jy gedoen om daai gewig te verloor?

Ek het begin om baie te draf - drie tot vier keer per week 5 km ver. En verder net baie gesond geëet: baie groente en vrugte, geen stysel of suiker nie. Ek het die gewig oor drie maande verloor, wat vir my ’n goeie en gesonde tydperk is om dit te doen. Dit was vrek moeilik, want ek is baie lief vir lekker kos en soetgoed. So ek is redelik trots op myself!

FOTO Leana Clunies-Ross

Is jy soms geskok wanneer jy ’n teks kry en sien wat vir jou karakter voorlê?

Ja, nogal baie. Ek raak óf baie opgewonde óf bietjie bang. Dis lekker as jy sien daar gebeur iets groots met jou karakter, dan kan jy weer jou naels in die storie inslaan. Ons weet nooit voor die tyd wat met ons karakters gaan gebeur tot ons die teks kry nie.

Jy hoor gereeld mense sê niemand kyk 7de Laan nie, maar tog sê die syfers iets anders.

Dis waar, ek weet nie hoekom dit so is nie. Ek dink mense sal altyd nuuskierig wees oor wat in 7de Laan aangaan. Of hulle dit nou wil erken of nie.

Jy is seker al baie bekend onder die publiek?

Ek kyk nie so na my lewe nie. Ek probeer nie vaskyk teen die feit dat ek bekend is nie, ek probeer maar net ’n gewone lewe leef sover moontlik. Maar soms kan dit oorweldigend raak, ek moes al ’n paar keer my gesig wegsteek as ek net vinnig by die winkel wou in en uit. Maar oor die algemeen is dit lekker as mense my herken, my groet en vra om saam met my foto’s te neem en dan oor hul eie lewe uitwei. Daarvan hou ek.  

FOTO Leana Clunies-Ross