Wat is ’n sepie sonder ’n liefdesdriehoek? En 7de Laan is geen uitsondering nie. Die krulkop Esti (Reandi Grey) is verloof aan die sjarmante Rikus (Andre Lotter). Maar ou liefde vergaan nooit nie ... die lojale Marko (Francois Lensley), wat ook eens Esti se verloofde was, het al sy moed bymekaar geskraap om sy liefde aan haar te verklaar. O wee!

Die keuse lê nou by Esti! Wie gaan sy kies? Eers kyk Esti na haar eie lewe en ondersoek haar verhouding met beide ouens. Maar dis nie al nie! Sy kyk ook in die toekoms in om te voorspel hoe haar lewe sal uitspeel as sy Marko kies of by Rikus bly.

Hoe lyk die toekoms vir Esti as sy Marco kies? FOTO Verskaf

Om seker te maak die proses van verouderings was geloofwaardig, het die vervaardigers van 7de Laan besluit om Natasha du Toit, ’n grimeer- en prostetiese kunstenaar van Kaapstad, se hulp in te span.

Om akteurs “oud” te maak, is maar net van die goed wat Natasha in haar mou voer. “Ek werk in die filmbedryf. Ek doen alles van grimering tot prostese.”

Francois se oudword het vele intriges bevat, verklap Natasha, wat teater tegnologie aan Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer het. “Om hom bles te maak moes Francois ’n bald cap dra. En natuurlik ook ’n nekstuk om los velle onder sy ken te kon skep.”

En hoe het die proses gewerk? Natasha het ’n afdruk van sy gesig gemaak. “Ons noem dit ’n cast, dis amper ’n tipe gips. Ek gebruik hierdie cast om ’n masker uit silikoon te maak.

Natasha du Toit FOTO Verskaf
Francois en Natasha. FOTO Verskaf

Die proses van veroudering was weer heel anders by Reandi en Andre, wat jonger as Francois is. Klomp stukkies silikoon word op areas van die gesig geplak, soos onder die oë en by die nekvelle.

“Ek het twee weke voorberei en die dag met die episode se verfilming het dit ure geneem om die grimering aan te wend.”

En ja, prostetiese kunstenaars moet hul storie ken. Die anatomie van die mens moet immers altyd onthou word.

’n Ouer Esti! FOTO Verskaf
Ouer Rikus. Mooi man! FOTO Verskaf

“Mans en vroue verouder anders,” verduidelik Natasha. “Vroue kry baie fyner plooie soos ons ouer word ... om die oë en mond. En natuurlik verloor die meerderheid nie so baie hare nie. Baie vroue kleur ook hul hare, so ons ‘versteek’ oudword bietjie meer.”

Maar dis nie net plooie en gryshare nie. Ons skedel verander ook! “Die meeste gesigte begin insink. Om hierdie effek te kry word subtiele veranderings aan die persoon se gesig gemaak, soos om die wangbene hoër op te bou en sodoende die effek te kry van wangbene wat ingesink het. Vir Francois het ek ook wenkbroue aan die masker gewerk vir ’n groter effek.”

Francois Lensley bekyk sy ouer weergawe. Nie te sleg nie! FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

Jou hande verklap altyd éérste jou ouderdom. Natasha se geheim? “Ons verf die hande om daai effek te kry.”

En hoe het dit vir die 7de Laan-sterre gevoel om voor die kamera oud te word? Dit was ’n ervaring!

Francois sê dit was eintlik makliker om ’n ouer Marko te speel. “Ek het bloot die karaker gevat en alles stadiger gemaak. Amper soos om in laer rat te gaan.”

Francois Lensley se karakter Marco het onlangs sy liefde aan Esti (Reandi Grey) verklaar. FOTO Instagram / Francois Lensley

Vir Reandi was dit weer ’n emosionele ervaring. “Om myself te sien as ’n ou vrou het my vreemd genoeg ’n gerusstellende en warm gevoel gegee.”

Dit het haar ook ’n hernuwe lewenslus gegee. “Dit het my eintlik met motivering gelos: Ek wil seker maak ek lewe ’n lewe waarop ek eendag sal kan terugkyk en weet ek het voluit geleef.”

Die beeldskone Reandi Grey vertolk die rol van Esti. FOTO Instagram / Reandi Grey

En Andre is geensins bang vir oudword nie, inteendeel hy hoop om sommer 90-plus te word! “As ek soos Rikus kan lyk as ek oud is, sal ek nie omgee nie. Ek hoop ek lyk beter,” skerts hy. “Ek en Rikus het dieselfde leefstyl. Fiks en gesond. Ek drink nie te veel nie, ek oefen en ek kyk mooi na myself.”

Andre Lotter, wat die rol van Rikus vertolk, hoop hy word sommer 90-plus. FOTO Instagram / Andre Lotter

Wie gaan Esti kies? Kykers sal maar moet wag en sien!