Wie beskou jy as jou grootstemededinger en is jy gereed vir haar?
Die Tsjeg Barbora Špotáková, die huidige wêreldrekordhouer. Ek is 150% reg en nie bang vir haar nie, maar ek respekteer haar. Ek het haar al in die verlede geklop en ons is selfs vriende as ons nie meeding nie. As ek wil goed vaar, moet ek deur die 70 m-grens breek. My persoonlike beste [by die Wêreldkampioenskap in Korea verlede jaar] is 68,38 m, maar ek en my afrigter,Terseus Liebenberg, het
hard gewerk.Tans is ek nog die vierde beste spiesgooier ter wêreld, maar ek fokus op die nr. 1-posisie.

Hoekom geniet jy dit so?
Ek het ’n passie om te sien hoe ver ek daai stok kan gooi. Daar is iets daaraan om in die oggend op te staan en in ’n stadion voor 150 000 mense te gaan deelneem...

Wat is die voordele daarvan dat die Spele in Londen is?
Daar woon hordes Suid-Afrikaners wat ons gaan ondersteun. Dis in ons guns dat dit ’n Engelssprekende land is – kommunikasie sal nie ’n probleem wees nie en die atlete sal maklik hul weg vind. Openbare vervoer is baie toeganklik.

Grootste struikelblokke in jou loopbaan?
Om te bly presteer in die dinamiese sportwêreld moet jy sielkundig baie sterk wees. Jou lyf en gees vat maar houe. In 2005, toe ek ma geword het van Henré, het baie mense my loopbaan afgeskryf. Dit was asof daar groot stereotipering om ma-wees en my sportprestasie was. Baie mense het gesê ek gaan nooit weer bo uitkom nie. Maar ek was geseënd en het weer presteer daarna. Fisiek is ek ook veel sterker.

Hoe voel jy net voor jy deelneem?

Ek is rustig, want ek weet ek het 150% voorberei. Maar daar is tog ’n bietjie vlinders in my maag as die adrenalien inskop. ’n Mens moet leer om jou senuwees reg in te span. Positiewe adrenalien is ’n goeie ding. Negatiewe adrenalien maak jou swaar en lam. Die oggend voor my deelname eet ek goed: pap, eiers en spek. En as ek eers in die middag deelneem, eet ek ’n lekker gekookte bord kos en ’n tjokkie.