Hugo Ludik staan en pronk voor die spieël in ’n vlootblou baadjie in militêre styl en lyk in sy skik met homself. “Onthou julle toe Westlife in Windhoek gesing het? Hulle het ook almaltrench coats aangehad.”
“Flippen cool, maat,” sê Joe Foster, sy medesanger in die groep Adam, wat as beste nuweling by die Ghoema-musiektoekennings aangewys is. Die derde lid is Reynardt Hugo.

Hugo het Adam sowat ’n jaar gelede begin en hulle is nou só gewild dat 12 000 eksemplare van hul debuut-album, getitel Adam, al verkoop is. “Maar ons bly plat op die aarde,” sê Reynardt. “Ons hou dit net lekker.”

Nou gaan hulle saam met onder andere Nataniël en Bobby van Jaarsveld in die musiekproduksie
Afri-Kaans op reis (met SARIE as mediavennoot) optree. Ons het elkeen 5 minute se vrae gevra. Lees die volledige onderhoud in jou Mei-uitgawe van SARIE

Hugo Ludik
“Zorro”

Jy’s ’n Namibiër, nè?
Ja. En toe het ek LL.B. aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.
Sal jy eendag ’n prokureur, advokaat of regter wil wees?
Nie een nie! My ouers het gedink dit sal goed wees vir my om iets behoorliks te swot, maar ek is nie lus
vir al die politiek en leuens nie. My eintlike liefde is musiek.
Julle sê julle is nie ’n boyband nie, maar wat is ’n boyband dan?
Gewoonlik is dit vyf ouens. Jonk ook. Hulle speel nie self musiekinstrumente nie en hulle het ’n bepaalde image. Hulle is so half pretty.

Joe Foster Joe Foster
“Die Kaaskop”

Jy’s uit en uit ’n Joburger.
Ja, grootgeword in Northcliff, skoolgegaan in Florida, maar toe het ek klankingenieurswese in Amsterdam, Nederland, gaan studeer.
Wat dink jy van Afri-Kaans op reis?

Dis amazing.
Hoe voel dit om saam met Nataniël op te tree?
Ongelooflik. Hy is die snaaksste ou op aarde.Hy bring nie net humor nie, hy bring lig. Hy is ’n diep mens.

Reynardt Hugo

Reynardt Hugo
"James Dean"

Wat dink jy van Afri-Kaans op reis?
Ek is ’n groot fan.
Van wat spesifiek?

Ek sien vreeslik daarna uit om saam met [musiekvervaardiger] Matthys Maree te kan werk. Dit gaan van internasionale gehalte wees. Die man is ongelooflik.
En Nataniël?
Ek het my lewe lank al ’n ontsettende bewondering vir hom. Ek het al skeerroom by sy winkel Kaalkop gekoop.
Het jy toe lekker geskeer?
Ja, dit werk baie goed.