Op Instagram sê Adeline Mocke sy is ’n plaasmeisie van Suid-Afrika wat in Hollywood bly. As jy met haar gesels, sien jy dis presies wie dié braai-mal meisie is!

Suid-Afrikaners het die model, aktrise en sangeres, wat oorspronklik van Upington in die Noord-Kaap is, leer ken toe sy in 2010 aan Idols deelgeneem het. Later het sy ook as gasaanbieder by die Pasella-span op SABC2 aangesluit. Deesdae pendel Adeline tussen New York en Los Angeles, waar sy ’n huis met twee vriendinne deel.

Melinda Bam word deel van die Pasella-span

Haar besluit om Amerika toe te trek was nie maklik nie, maar Adeline droom al sedert sy ’n klein dogtertjie was daarvan om haar talente in dié land te gaan uitleef.

Sy gesels met SARIE.com oor haar onlangse kuier in Suid-Afrika, nostalgie, bobotie en braaivleis ...

Waarmee is jy alles besig in Amerika?

Ek het nog altyd gehou van acting as ’n kuns en swot nou om die Amerikaanse aksent baas te raak. Ek het ’n goeie bestuurspan en gaan al vir groot oudisies vir hoofrolle.

Ek oefen ook elke dag vir modelkompetisies om te netwerk. Ek het so ’n paar maande terug in Las Vegas die prys gewen vir Miss Las Vegas International Model Search. Ons was 50 meisies van oor die wêreld en ek sal altyd my land se naam met eer dra waar ek gaan.

Ek sing nie meer nie, maar sal graag weer wil begin sing wanneer die tyd reg is.

Hoe gereeld kom kuier jy in SA?

Ek kom so een keer ’n jaar huis toe vir twee maande op ’n slag. Ek is baie bevoorreg om dit te kan doen, want ek weet om twee maande vakansie te kan hê, is nie altyd so maklik vir almal nie.

My droom is om in die toekoms so drie of vier keer ’n jaar vir korter tydperke huis toe te kom.

Model Candice Swanepoel kuier in SA

Wat was die hoogtepunt van jou onlangse besoek aan die huis?

Definitief my ma, Carin, se kos en my pa, Avril, se braai! Ek moet sê, my hoogtepunt was om by my familie te wees, want al woon ek aan die ander kant van die wêreld, is ons baie geheg aan mekaar. Ek het ook ’n wonderlike band gebou met my broer, Michael-John, wat my hart so bly maak. Ek dink mens besef eers wat jy het sodra jy dit nié meer elke dag het nie.

Wat mis jy die meeste van SA?

Ek verlang na die goeie gehalte van die kos en om vier dae ’n week te kan braai :)

Ek verlang na die mense! Suid-Afrika se mense is net amazing! Ek mis die lekker vasdans (sokkie) saam my vriende en om net in my moedertaal, Afrikaans, te kan praat.

Wat doen jy as jy huis toe verlang?

Ek maak bobotie vir my huismaats en Skype met my familie en vriende. En dan, om my te laat beter voel, herinner ek myself aan hoekom ek hier is en dat ek nie nou al kan opgee nie. As dit te erg raak, maak ek ’n plan om New York toe te gaan na my tannie (Anelle Guzzo), wat Afrikaans praat, en my oom (operasanger Marcelo Guzzo), wat weet hoe om te braai.

Resep: bak jou eie bobotie-pastei

Wat was sover die hoogtepunt van jou tyd in Amerika?

Die hoogtepunt was om te besef hoe mooi my land is. En hoe ek dit kan vergelyk met wat ek al in die res van die wêreld gesien het. Daar is baie min plekke soos Suid-Afrika en dit was amazing om te sien hoe die mense meer by mekaar begin staan om te help.

Wie is jou vriende in Amerika?

Ek het twee mooi vriendinne saam met wie ek in ’n huis woon. Anna studeer om aktrise te word en skiet haar eie kortfilms. Sy beplan ook om in Afrika te toer en ’n dokumentêr oor ons land se vrouens te maak. Dagmaretta, my ander huismaat, is ’n stileerder vir akteurs en werk tans op die stel van Mad Men. Ek het baie ander vriende, wat die ondervinding hier so lekker maak.

Hier is Adeline by Anna (links) en Dagmaretta (middel)

Wat moet Suid-Afrikaners wat dié skuif maak, onthou?

’n Mens woon omtrent twee jaar hier voordat jy tuis voel. Hulle moet oop wees vir baie verandering en sterk wees om nie te vining moed op te gee nie.

Wat maak dit lekker om in Amerika te bly?

Vir my is dit lekker om vir die eerste keer omring te wees met mense wat in dieselfde bedryf is as ek. Ek kan met mense gesels wat dieselfde belange het, waar ek dit in Suid-Afrika nie kon doen nie. Ek was te bang om oor my werk te praat. Te bang om te sê wat ek doen, want ek wou nie hê mense moes dink ek spog nie.

En die minder lekker aspekte?

Ek is ’n jong dame en wil vandag ons Suid-Afrikaanse mans en vroue ’n groot kompliment gee.

Ons het baie respek vir mekaar en het baie respek vir onsself. Ons standaarde en ons waardes is baie hoog. Die slegter dele is dat mense hier nie by mekaar staan soos ons doen nie. En ek moet hulle leer hoe om te braai!