SARIE vra aan Joan Strydom hoe’t sy gevoel om op 74 ’n BA honneursgraad in algemene literatuurwetenskap te verwerf.

Joan Strydom, ’n afgetrede sekretaresse en gastehuiseienaar van Pretoria, is op 18 November 2006 getroud met haar skoolkys en tweede man, Piet Bothma, wat sy op haar vyftigste skoolreünie raakgeloop het. Sy is die trotse ma van twee kinders (met twee kleinkinders) by haar eerste man wat reeds oorlede is. Op 10 Junie vanjaar het sy die BA honneursgraad in algemene literatuurwetenskap deur UNISA verwerf.

"Verlig. Ek het gevoel soos die voormalige rugbyafrigter, Pieter de Villiers, altyd ná ’n wedstryd gesê het: ‘Ons het baie geleer.’ In my werkstukke vir dié graad, is ek heeltyd oor die vingers geraps omdat ek te kreatief, nie akademies genoeg, geskryf het nie. Ek het soos ’n uitsuipkalf met ’n mikstok om die nek gevoel. Boonop moes ek lywige, ingewikkelde filosofieë in Engels bestudeer.

Vir een van my werkstukke het ek 24% gekry en amper tou opgegooi. Met dié graad het ek opnuut besef my groot liefde is om te skryf om trauma in humor te omskep en die lewe te probeer verstaan en nie om ánder se filosofieë te interpreteer nie.

By die ATKV-slypskool by Noordwes Universiteit op Potchefstroom in Maart vanjaar, het die bekende NB-uitgewer Etienne Bloemhof my skryflus wakker gemaak toe hy vertel het hoe gewild ‘satynboekies’ en liefdesverhale is. Dit is wat ek nou doen. Ek het ook al ’n roman ’n keer of wat ingedien by uitgewers, maar hulle het gemeen ek is nog nie gereed nie.

FOTO: VerskafVolgende jaar gaan ek by Tukkies inskryf vir Afrikaans 3. Daarna wil ek by die Noordwes Universiteit aansoek doen vir my Meestersgraad in kreatiewe skryfwerk en aan die groot roman werk wat ek die nageslag skuld. Ek hou van boeke waar die underdog wen.

Ek lees alles op my Kindle: van tydskrifte soos SARIE en die dagblad BEELD tot die Fransman Marcel Proust se Remembrance of Things Past , Agaat van Marlene van Niekerk en die romantiese Britse dame Barbara Cartland se ‘adel en brokaat’-verhale.

Noem my domastrant. Ek dink nie aan myself as ‘oud’ nie en glo dit is deur die Genade, my man, vriende en familie se liefde wat ek kan doen wat ek doen."

* Lees ook haar flitsverhaal in jou Oktober SARIE