Ons het talle dromers. Handevol talent. Meestervertolkers. Rye skrywers. Hope tekste. Só antwoord die ontslape meester-filmmaker Jans Rautenbach eens op ’n vraag, “Is daar genoeg dromers in die Afrikaanse rolprentbedryf?”, in ’n artikel deur die bekroonde joernalis Willemien Brümmer. (Netwerk24, 19 Maart 2016)

By kykNET se negende Silwerskermfees in 2019 is meer as 160 Afrikaanse kort- en speelfilms vertoon, waarvan verskeie reeds internasionale erkenning gekry het. Poppie Nongena, Griekwastad, Die verhaal van Racheltjie de Beer, Fiela se kind, Toorbos.

Internasionale louere is trouens geensins nuut nie. In Mei 2011 het Skoonheid die eerste Suid-Afrikaanse fliek geword wat by die Cannes-filmfees vertoon is. Die veelbekroonde Kanarie (2018) is wêreldwyd lof toegeswaai, en Moffie (2019) is vir drie British Independent Film-toekennings benoem.

Die dokumentêre prent Alison deur Uga Carlini – een van ons voorste vrouefilmmakers – wat in 2016 uitgereik is, het teen verlede jaar al 15 pryse gekry. Maar daar is báie uitdagings in die plaaslike bedryf. Filmmakers sukkel met finansiering. Te klein begrotings stel baie hoë eise aan akteurs, kameraspanne en regisseurs. Afrikaans is nie ’n wêreldtaal nie. En goeie films maak nie noodwendig groot geld nie. Maar dit keer ons rolprentmakers nie om puik produkte te vervaardig nie.

Tim Theron, medevervaardiger van Griekwastad, sê wêreldwyd is die tendens nou om flieks te kyk op Apple-televisie, Box Office of Netflix, eerder as in teaters. “Die tradisionele model is op sy kop gedraai. Deesdae is daar ook ’n verskeidenheid goeie Afrikaanse rolprente. Kykers is meer kieskeurig. Dikwels geniet romkoms en komedies voorkeur, nie almal is lus vir ’n swaar drama nie. Ons reken egter Griekwastad vertel ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal – die sensasionele ‘plaasmoord’ waaroor die hele land wonder. Ons dink dit gee dit ’n kommersiële edge.”

Filmmakers is dit eens dat kykNET ’n groot rol speel in die ontwikkeling van nuwe talent en die finansiering en bemarking van Afrikaanse flieks met gratis lugtyd op hul kanale. Karen Meiring, direkteur van M-Net se kykNET-kanale, sê: “Romkoms is baie gewild en lekker ligte vermaak wat mense goed laat voel. In die afgelope twee jaar het Stroomop die beste by die loket gevaar, maar Ellen: Die storie van Ellen Pakkies [oor ’n ma in Lavender Hill wat haar seun, ’n tikverslaafde, vermoor] was baie naby, in die tweede plek. Mense stel dus ook in swaarder stories belang. ”

Volgens Karen moet die internasionale sukses van Afrikaanse rolprente nie misgekyk word nie. “Talle films, soos Nommer 37, Kanarie, Ellen Pakkies, Krotoa en Meerkat Maantuig, het groot sukses op die internasionale feeste-kringloop behaal én groot verspreidingskontrakte losgeslaan.”

Hoe sien filmmakers die uitdagings in hul bedryf? Al is dit hél, sê Uga, werk jy omdat jy kans sien vir die uitdagings. “As dit maklik was, sou almal rolprente gemaak het. Al verander jy net een mens se lewe, is jou film die moeite werd. As ek ’n goeie fliek of ’n hartstogtelike vertoning van ’n akteur sien, wéét ek hoekom ek wil aanhou flieks maak.”

Sy wil die bes moontlike stories skep en gehore bly betower, vertel René van Rooyen, regisseur van Toorbos, ondanks groot uitdagings, om die vrouestem in rolprente te beklemtoon.

Die lekker lê juis daarin om die onmoontlike aan te pak, meen Matthys Boshoff, regisseur van Racheltjie de Beer.

Maar soos Brett Michael Innes, regisseur van Fiela, sê, die onus rus op kykers om Afrikaanse rolprente en kykNET te ondersteun. “Anders gaan daar oor ’n paar jaar nié meer Afrikaanse rolprente gemaak word nie.”

Ons moet mekaar help.

SARIE het met ’n paar rolprentregisseurs gepraat oor uitdagings in hul werk, en hul dryfvere.

Uga Carlini - regisseur en vervaardiger

Lees die onderhoud hier

Brett Michael Innes - regisseur en draaiboekskrywer

Lees die onderhoud hier

Tim Theron - akteur en vervaardiger

Lees die onderhoud hier

Matthys Boshoff - regisseur en draaiboekskrywer

Lees die onderhoud hier