"Ek weet al geruime tyd van Hanna Grobler. Lank voor haar rol as Kiki in Getroud met rugby of haar deelname aan Survivor SA, selfs nog voor die media haar spoor gevat het toe die nuus breek sy en Bok van Blerk is romanties betrokke. Want sien, Hanna het roem onder akteurs verwerf met haar Huiskonserte. Heel eenvoudig genoem Hanna se Huiskonsert. Sy’t 'n speelvak geskep waar jong akteurs kan sing of dans of doen net wat hulle wil. Glo my, Hanna Grobler is geliefd onder elke mens wat haar ken. Iemand het eenkeer gesê jy kry 4 soorte mense: (1) Saggeaarde mense wat maak asof hulle koud en hard is.(2) Harde, gevoellose mense wat maak asof hulle goedhartig en aangenaam is. (3) Harde mense wat harteloos is en ook so leef. (4) En sterk mense wat goed is en goed doen. Hanna is beslis laasgenoemde. Dis ook geen wonder dat sy besig is om haarself te vestig as 'n suksesvolle aktrise en media-figuur nie. Sit by haar geaardheid talent, en ek is seker jy sal saamstem dit was net 'n kwessie van tyd voordat sukses aan haar deur geklop het. Kyk na ons foto’s dié maand. Ek dink jy kan haar besondere karakter op haar gesig lees." Toe Hanna uit Survivor SA uitgestem is, het ons 'n sielkundige gevra wat haar sterk én swak punte was.