Die dag van die fotosessie self is eenvoudig betowerend. Soos nou weer met Bertha le Roux vir jou April-SARIE. Maar dis nie waar dit begin nie ... Daardie dag begin lank voor die eerste kameraflits. Dis wéke se beplanning!

Ek het 'n spesifieke idee gehad oor wat ek met Bertha voor die kamera wou doen om haar maerword-stryd te probeer uitbeeld. Tussen houtkratte, waar sy moes sit, staan, lê - enigiets wat 'n mooi prentjie sou maak. En kan jy glo? Ons sou die Woensdag, agtuur die oggend begin skiet, maar drie-uur die Dinsdagmiddag val die hele idee deur die mat - geen kratte nie, nêrens plek om die foto's te neem nie.

Toe moes daar vinnig 'n nuwe plan gemaak word.

Dankie tog, ek ken iemand by die Pieter Toerien-teater in Montecasino, Johannesburg. Dié Bertha is immers 'n aktrise. Om haar dus na 'n teater te neem is heeltemal gepas. 'n Paar oproepe en die fotosessie kan voortgaan.

Bertha is, om dit eenvoudig te stel, sensasioneel. Sy het 'n hele boot se gewig verloor!

Ek het haar twee jaar gelede ook voor ons kamera gesit, maar dié keer is daar 'n nuwe mens voor my. Ek het haar nog nooit so gesien nie!

En al die elemente werk vandag in ons guns. Onthou, daar is 'n reuse-verskil tussen 'n model en 'n aktrise. Ja, albei is gewoonlik mooi, maar waar die model perfek is in bykans alle opsigte is die aktrise doodgewoon - in bykans alle opsigte. Sy lyk soos ek en jy. Oukei, dalk 'n bietjie mooier as die gemiddelde vrou op straat, maar tog ...

Die oggend begin met hare en grimering. Waar Bertha in die verlede sou weglê aan 'n muffin, is sy nou tevrede met net 'n koppie koffie. Selfs Karen en Adelle (die hare en grimering-girls), is sommer geïnspireerd om ekstra mooi te maak vandag. Die energie is tasbaar.

Clinton fiddle met sy kameras en werk sy beligting uit. Tussen die lipstiffie, poeierkwaste en haarkrullers deur moet ek sorg vir rokke aanpas. Van 'n rooi satynbloes tot 'n ysgrys syrok, en nog en nog. En nog! Daar is 'n hele reling klere betrokke, nie net dit wat jy uiteindelik op foto's in die tydskrif sien nie. As jy al die klere op 'n skaal sou sit, sal dit drie van die "ou" Berthas se skoene vol staan!

Eers twee, drie ure later is ons gereed om die eerste foto te neem. En dis die ene ligte en flitse. Alles werk mooi saam. Die klere pas, 'n paar ontwerperskoene van Preview pas haar soos Aspoestertjie se glasskoen. Met 'n paar onderbrekings om hier 'n los haartjie uit die gesig te vee, daar die lippe 'n ekstra lagie rooi te gee, of 'n weerbarstige kraag reg te trek.

Die eindresultaat is magic.

Kyk maar in jou nuwe SARIE ...