G'n wonder Corine du Toit was op haar dag 'n internasionale model nie. En gelukkig vir my is sy beeldskoon en 'n droom om mee saam te werk - g'n Jane-van-Egoli-streke nie! Want glo my, daar is niks so frustrerends soos 'n moeilike mens op 'n fotosessie nie. Daar gaan baie moeite, beplanning en kreatiewe energie daarin om 'n voorbladfoto te laat werk! Ons begin vroegoggend in die ateljee. Daar's vier uitrustings, en die een sit so mooi soos die ander (my gedagtes is by ons kunsdirekteur, Ruben Moore, wat  net één uit die vier moet kies). As agtergrond hang ons 'n duursame papier aan twee wasgoedpennetjies. As 'n mens nie van beter geweet het nie, sou jy waarskynlik dink dis iewers teen die trap van 'n baie ou hotel geskiet. Weer dink ek aan Ruben wat daardie SARIE-mashoof oor Corine se kop sal moet gooi - watter kleur sal dit dié maand wees? (Ruben tóór met daai masjien van hom. Hy skilder en verf oor daai rekenaarskerm, seun van Picasso ...)

Met die voorbladfoto in die sak ry ons - na wat voel soos 40 dae en 40 nagte - na die Velmore Estate Hotel. Daar pak ek die ander 20 uitrustings uit (waarvoor ek omtrent vier dae lank geshop het). Wéér lyk sy pragtig in elke liewe een!

Ek stem vir Corine!