Dit was die TV-reeks wat van Steve Hofmeyr ’n ster gemaak het. Agter elke man, waarvan die eerste reeks op 5 September 1985 op die destydse TV1-kanaal afgeskop het, het kykers langer as drie jaar vasgenael gehou. Die lief en leed van ’n groep karakters – ryk én arm – is saamgeweef in dié dramareeks wat vandag nog as grensverskuiwend in Suid-Afrika se TV-geskiedenis gesien word.

En wie sal ooit vir Bruce Beyers (Steve Hofmeyr) vergeet, die gefolterde boerseun wat net nie rigting kon kry nie en toe met gure karakters uit Johannesburg se onderwêreld deurmekaar geraak het? Hy’t loseer by antie Stienie Steyn – ’n karakter wat die aktrise Dulcie van den Bergh so ikonies vertolk het – in Jan Bom, ’n woonbuurt met baksteenhuisies aan die verkeerde kant van die treinspoor (soos Steve later sou sing in die liedjie “Agter elke man”).

Baie van die akteurs wat hoofrolle vertolk het, het ná die reeks uit die kollig verdwyn. SARIE.com het ’n paar van die karakters gaan opsoek om te hoor wat hulle deesdae doen. Heel eerste praat ons met Sulette Thompson en Glen Bosman, wat die karakters van die gedoemde paartjie Suzie Bruwer en Wessel Barnhoorn vertolk het.

Sulette Thompson (Suzie Bruwer) 

Sulette Thompson as Suzie Bruwer in 'Agter elke man'

Suzie was ’n tragiese karakter wat verlief was op die rykmanseun Wessel Barnhoorn. Sy was die slagoffer van huishoudelike geweld en is later van moord aangekla. Sulette werk al die afgelope 21 jaar in die boekhou-afdeling van die Thespians-akteursagentskap in Johannesburg. Sy werk nog soms as vryskut-aktrise en het ’n gasrol in onder meer die sepie Villa Rosa gehad. Tans is sy in Leon van Nierop se radiodrama Hartebreker, wat weeksoggende op RSG uitgesaai word.

“As jy kinders grootmaak, is dit nie moontlik om net as vryskut-aktrise te werk nie. Ek is lief vir syfers en van skool af al goed met wiskunde,” vertel Sulette.

Sulette en haar oorlede man, Hennie Cronjé, het vier kinders. “Met my man se dood tien jaar gelede het ek so verlore gevoel. Ons was 22 jaar saam.” Kort ná sy dood het sy begin motorfiets ry. “Ek moes iets doen om ’n verandering in my kop te maak. Toe begin ek bike ry.”

FOTO Facebook

Deesdae woon sy saam met haar verloofde, Dieter Wiese, ’n landskapontwerper, op ’n kleinhoewe buite Johannesburg. “Ek is baie geseënd. Sommige mense kry nie eers een liefdesmaat in hul leeftyd nie. Ek het twee gekry. Ons trou aan die einde van die jaar. Dit gaan ’n biker-troue wees. Ons gaan in biker-klere trou.”

Sulette en haar verloofde FOTO Verskaf

Sulette is baie trots op die Harley Davidson wat sy besit. 

Oor Agter elke man sê sy: “Ek het nie gedink dit sou so ’n fenomeen wees nie. Dit was die mees fantastiese ervaring wat ek as aktrise gehad het. Frans [Marx, die skrywer] het die karakters bly ontwikkel soos wat hy jou beter in die rol leer ken het. As hy iets in jou private lewe agtergekom het, het hy dit sommer deel van die karakter se storielyn gemaak.”

Glen Bosman (Wessel Barnhoorn)

Glen Bosman as Wessel Barnhoorn in 'Agter elke man'

Wessel was ’n rykmanskind wat verlief geraak het op Suzie, iemand ver verwyder van sy sosiale stand. Hy het in ’n motorongeluk breinskade opgedoen en antie Stienie het menigmaal vir hom gevra: “Wessel, is jy gebrein-damage?” – wat een van die gewildste sêgoed uit die reeks geword het.

“Sedert Agter elke man het ek baie gedoen. Dit is immers al ’n hele paar jaar sedert die reeks geëindig het. Ek werk as vervaardiger van advertensies en flieks, maar ek het nooit weer toneel gespeel nie.”

FOTO Verskaf

Glen het al advertensies vir groot handelsname soos BMW en Virgin Active gemaak en is plaaslik en internasionaal bekroon vir sy werk, onder meer by die Cannes Lions International Festival of Creativity in Frankryk. Hy het sy eie produksiemaatskappy, CATAPULT COMMERCIALS.

Agter elke man was ’n wonderlike ervaring. Ek was aanvanklik net ’n runner op die stel wat koffie gemaak en allerhande ander takies gedoen het.”

FOTO Verskaf

Sy potensiaal is gou raakgesien, waarna die rol van Wessel syne geword het. “Teen die einde van die drie en ’n half jaar lange produksieproses was ek die assistent-vervaardiger.” 

Glen woon in Randburg en het twee kinders, Janna en Bryce. Hy is enkellopend.

Hier's 'n advertensie waarvoor Glen verantwoordelik was.