Oscar lyk net so gemaklik in sy vel. Dalk omdat hy soveel selfvertroue het. Was hy nog altyd so?
Die herinneringe wat ek van hom het, is dat hy nog altyd nes ek en my ander broer, Carl, was. Daar was nooit iets wat hy nie saam met ons kon doen nie. Ons al drie het altyd saam gaan fietsry. Oscar was van kleins af baie sportief. Ek dink nie enigiets sou hom kon terughou nie. Hy was nog nooit bedees nie. Ek glo ook dit was vir hom lekker om ’n ouer broer te hê.Wat ook al Carl gedoen het, het Oscar gedoen. As Carl go-karts gery het, het Oscar ook. Hy het eenvoudig die lewe geleef.

Hoe het jou ouers hom hanteer?
Hulle het nooit ’n ophef gemaak nie. Oscar is nooit spesiaal of anders behandel nie.

Was jy en Oscar van kleins af so na aan mekaar?
Toe ons jonger was, het ons lekker aan mekaar gekarring, soos wat kinders maar doen. Ons het soms vasgesit en baklei. Maar hoe ouer ons geword het, hoe sterker het ons verhouding geword.

Is jy ook sportief?
Glad nie so erg soos Oscar nie. Carl is die slimste van ons drie en Oscar die sportiefste. Ek is maar so tussenin. Oscar het al die sportgene gekry. Daarna was daar niks meer vir my oor nie.

Hoe gereeld sien julle mekaar?
Oscar was verlede jaar ongelooflik besig, dus het ons mekaar maar min gesien. Toe ek nog gestudeer het, kon ons maklik by mekaar se skedules inpas. Dit was ’n fenomenale jaar vir hom. Dit is wonderlik, maar ek dink nie mense besef altyd hoe groot die opofferings is wat hy maak nie. Hy het ’n glansryke leefstyl, maar as jy vyf, ses maande van die jaar van die huis weg is, verloor jy voeling met wat gebeur. Die lewe gaan aan sonder jou en jy moet heeltyd van voor af op hoogte kommet wat in mense se lewe aangaan. Dis ook moeilik om nie jou vriende en familie naby jou te hê nie. Hy loop ook soms spesiale geleenthede mis. Ek dink vanuit daardie oogpunt is sy lewe nogal moeilik.

Jul ma, Sheila, is tien jaar gelede oorlede. Hoe het dit jou en Oscar se verhouding beïnvloed?
Dit het ons beslis nader aan mekaar gebring. Wanneer ek en Oscar baklei het toe ons klein was, het my ma altyd gesê: “Maak dinge reg met mekaar, want vriende kom en gaan, maar raai wat? Môre is julle nog steeds broer en suster.” Ná haar dood het ons saamgestaan. Ons kon mekaar baie ondersteun, want ons het mekaar se pyn verstaan.

Wat doen julle wanneer julle tyd saam deurbring?
Ons ondersteun mekaar omdat ons familie is. Dikwels vra Oscar my om hom te help om kos te maak wanneer hy mense onthaal. Of ons sal sommer net met sy honde speel of iets gaan eet. Twee jaar gelede het ek en twee van my vriendinne besluit om te gaan fliek op Valentynsdag. Oscar het my gebel en gevra wat my planne is. Toe ek vir hom sê ons gaan fliek, het hy gevra of hy maar kan saamkom. Toe het ek, hy en my vriendinne Black Swan op Valentynsdag gekyk. [Lag.] Hy kan baie sweet wees. Ek het eenkeer vir hom gesê ek gaan my hare laat sny. Toe sê hy nee, nee, ek moet na sy haarkapper toe gaan, hy sal laat weet ek kom en hy sal betaal.

Wat bewonder jy die meeste van Oscar?
Sy vasberadenheid. En die feit dat hy nog dieselfde mens is saam met wie ek grootgeword het. Hy was nog altyd lief vir karre; hy is steeds. En hy is steeds toeganklik en goedhartig.